Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
TLU-voorsitter verhoed ‘2de Bloedrivier’ op plaas in KZN

As dit nie vir die ingryping van ’n hoë polisieoffisier en die voorsitter van TLU SA in KwaZulu-Natal was nie, het “nóg ’n Piet Retief en ’n Bloedrivier” verlede week in Wasbank in dié provinsie plaasgevind.

Siphiwe Gule, voorsitter van die plaaslike gemeenskapseienaarsvereniging en sy vrou, Ezabe. Gule sê die boere het hom vir toestemming gevra om vermeende stropers se spore oor hul plaas te sny, maar niemand het toestemming gevra om daar te jag nie. Foto: Deon Raath

Dít nadat boere vermeende stropers se honde doodgeskiet het en dit tot ’n “gevaarlike konfrontasie tussen boere en hondeeienaars” gelei het.

’n Boer van die Wasbank-omgewing (ongeveer 25 km van Dundee), sê iemand het hom verlede Sondag omstreeks 05:55 gebel om te sê daar is mans wat met honde op stamgrond jag. “Ek het dit dadelik gerapporteer,” sê die boer, wie se identiteit op sy versoek weerhou word.

Hy sê die jagters jag vir sport.

“Elke jagter gee geld en dit word in ’n kitty gegooi. Dan wen die ou wie se honde die eerste of die grootste bok vang, al die geld.”

Niemand het ons toestemming gevra om te jag nie.

Dis hoogs georganiseerd en die honde wat hulle gebruik, kan tot R50 000 stuk kos, sê hy. Die honde ontsien niemand se eiendom nie. “Die honde byt die mense se boerbokke ook.”

Boere en ’n private teenstropingsmaatskappy, Covert Corps, is na die plaas, Beganani, ontplooi. Beganani behoort aan die plaaslike gemeenskap en volgens nog ’n boer het die voorsitter van die gemeenskapseienaarsvereniging (GEV) toestemming gegee dat hulle die spoor oor hul grond mag sny.

Frans de Jager, van Covert Corps, en ’n kollega het dié spore gevolg tot waar hulle op hoër grond in die beboste gebied ’n beter uitsig kon kry.

“Ek sien toe die mans en hul honde is besig om vier of vyf koedoekoeie deur die bos te jaag. Toe hulle my sien, het hulle van rigting verander en gevlug.”

Frans de Jager wys vir Rapport waar hy die honde doodgeskiet het.

Hy het hulle gevolg, maar het weens die ruwe terrein gesukkel om die mans en hul honde in te haal.

“Toe ek deur ’n donga klim, was daar ’n dig beboste deel voor my. Toe hoor ek hoe een van die hanteerders sy honde aanhits om my te byt. ‘Sa!’ het die man geskree, toe storm die honde uit die bosse.”

De Jager sê hy het geen keuse gehad as om te skiet nie.

“Die honde jag koedoes, hulle sal ’n mens lelik seermaak. Ek het met my LM 5-geweer drie van die honde reg voor my geskiet.” Hy sê dit was noodweer.

Hy het die honde se hanteerder in die bos gekry.

“Die man het beskermend oor nog twee honde gelê en geskree ek moenie skiet nie. ‘Ek het hulle onder beheer, skiet my, maar moenie my honde skiet nie,’ het hy geskree. Toe sê ek vir hom hy moet stil lê, die polisie is op pad.”

Maar volgens De Jager het die man toe opgestaan en hom begin vloek. Nog ses of sewe mans het toe uit die bosse verskyn en om ons begin saambondel, sê De Jager. Hy sê die mans was “aggressief en stamperig”.

“Ek het oor die radio die boere in kennis gestel ons gaan onttrek voordat ek dalk ’n mens uit selfverdediging moet skiet.”

Hulle het weggeloop met die mans kort op hul hakke. “Hulle het ons gevloek en beledig.”

Nóg ’n boer wat kort ná die skietery daar was, sê: “Daar was skielik mense en honde – daar was seker 40 honde – oral.”

Hy sê die “bakkies wat die honde afgelaai het” en die polisie het toe opgedaag.

“Ek het die voorsitter van die GEV, Siphiwe Gule, by sy huis gaan haal en hom toneel toe gevat. Op pad het van die stropers ons al in die pad probeer stop.”

Toe hulle by die toneel aankom, was daar al agt boere en ongeveer 50 lede van die plaaslike gemeenskap en die situasie was gespanne. Die jagters het R30 000 skadevergoeding geëis vir elk van die honde wat geskiet is en gesê die skote was eintlik op húlle gemik.

Die polisie wou twee mans in hegtenis neem vir poging tot moord oor die skote op die honde.

“Ek het na my voertuig terug gegaan, maar toe ek wou ry, het ’n man my om die nek gegryp deur die venster.”

’n Ander boer sê hy is rondgeruk en gestamp.

Herman de Wet, die voorsitter van TLU SA in KwaZulu-Natal, het ’n brigadier gebel om in te gryp en dié het nog polisie na die toneel gestuur. Almal is toe gewaarsku en vrygelaat.

“As dit nie vir hom was nie, kon ’n tweede Piet Retief óf selfs Bloedrivier Sondag gebeur het,” sê De Wet.

Die aanklagte teen die boere is sedertdien verander na dieremishandeling en saakbeskadiging.

Gule het aan Rapport bevestig die boere het toestemming gehad om sy gemeenskap se plaas te betree, “maar niemand het ons toestemming gevra om te jag nie”.

Kapt. Nqobile Gwala, ’n polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het die voorval bevestig.

Meer oor:  Dundee  |  Honde  |  Stropers  |  Jag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.