Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Toe skiet ek Caiphus in sy kop’

Oudpolisieman beken skuld nadat koelbloedige moord meer as 30 jaar by hom spook, berig Dawie Boonzaaier.

Meer as 30 jaar nadat ’n studente-aktivis in Daveyton aan die Oos-Rand doodgeskiet is, het ’n polisiebeampte nou gebieg die man is vermoor en die polisie het hom nie – soos destyds aangevoer is – uit selfverdediging geskiet nie.

Die 60-jarige Johan Marais het die afgelope week aan Rapport gesê hy was die een wat Caiphus Nyoka, destyds een van die leiers van die Transvaal Students Congress, koelbloedig in sy kamer agter sy ouerhuis in Daveyton vermoor het.

Nyoka se dood ry hom al jare lank en hy kan nie meer daaroor stilbly nie, het Marais die afgelope week telefonies gesê vanuit ’n psigiatriese hospitaal in KwaZulu-Natal waar hy ná ’n selfmoordpoging opgeneem is.

Sy eksvrou het Rapport vroeër die week gebel en gesê Marais wil met die koerant oor die gebeure op 23 Augustus 1987 praat.

‘Die familie was reg, ons het vir Caiphus Nyoka vermoor. Hy het geen wapens by hom gehad nie.'

Marais sê die saak teen die veiligheidspolisiebeampte Jan Rodriques, wat na bewering betrokke was by die dood van die aktivis Ahmed Timol in 1971, het al die ou wonde van nuuts af oopgekrap. “Ek kan nie meer elke dag oor my skouer kyk na die probleme van my verlede nie,” sê hy.

Die polisie het destyds beweer dat hulle Nyoka wou ondervra ná ’n voorval daardie oggend waartydens twee mans in hegtenis geneem is weens die besit van ’n aantal kleefmyne en handgranate. Nyoka het blykbaar die polisie aangeval tydens die ondervraging in sy kamer, waarna hy geskiet is.

In Februarie 1997, tydens ’n sitting van die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) in Benoni, het Nyoka se suster Alegria getuig dat sy die dag deur ’n “aggressiewe wit polisieman” gestop is toe sy by die kombuisdeur wou uitgaan om te sien wat in hul agterplaas aangaan.

“Ek was bang en het terug in die huis ingegaan,” het Alegria getuig.

Johan Marais die afgelope week by die Prince Mshiyeni-gedenkhopsitaal in Umkomaas.

Geen van die polisiemanne betrokke het na vore gekom nie en die WVK kon nie die saak verder voer nie.

In haar getuienis voor die WVK het Alegria wel die naam genoem van ’n sekere “sers. J. Marais”.

Marais, wat ook ’n boek, Tydbom, oor sy polisieloopbaan geskryf het, sê hy was daardie sersant.

Hy sê ’n oudbevelvoerder het hom destyds aangeraai om nie na vore te kom en vir amnestie aansoek te doen nie.

“En die familie was reg, ons het vir Caiphus Nyoka vermoor. Hy het geen wapens aan hom gehad nie.”

Hy sê sedert die Timol-saak ry die moord op Nyoka hom só dat hy besluit het om sy eie lewe te neem.

Op 23 Augustus het hy by ’n vakansieoord in Amanzimtoti ingeboek en besluit om oor die 30 pille en ’n teenvriesmiddel te drink “terwyl ek uitkyk oor die see”.

Só het die SAUK destyds berig oor Alegria Nyoka se getuienis voor die WVK oor haar broer Caiphus se dood.

’n Maand later – op 23 September – het hy uiteindelik so ver gekom. Hy het die bottel vol pille gesluk, vir hom ’n gat in duine met ’n see-uitsig oopgekrap, en die teenvriesmiddel gedrink. Hy het egter die pille begin opgooi as gevolg van die teenvriesmiddel. Ná ’n koue en siek nag op die duin het hy op ’n nabygeleë treinspoor gaan lê “maar toe wil die donnerse trein nie meer ry nie”.

Hy het later in ’n waas by ’n winkel aangekom waar iemand hom ’n geleentheid gegee het na die polisiestasie in Amanzimtoti.

“Ek het toe besluit ek is moeg vir weghardloop en het besluit om ’n bekentenis af te lê.”

Hy word sedertdien in ’n psi­giatriese saal in die Prince Mshiyeni-gedenkhospitaal in Umkomaas in KwaZulu-Natal aangehou.

Oor Nyoka se dood sê Marais dat hy vir die polisie se veiligheidstak aan die Oos-Rand gewerk het. Hy sê oomblikke voordat hy en ’n kollega Nyoka se kamer binnegegaan het, het die kollega vir hom gesê sodra hulle alleen in die kamer saam met Nyoka is, moet hy wat Marais is “hom uithaal”.

“Hy het gesê ek moet nie bekommerd wees nie, hulle sal die toneel herkonstrueer dat dit lyk asof daar ’n struweling was.

“Ons het ingestap, die ander man het geknik, en toe skiet ek vir Nyoka in sy kop.”

Hy is later met posttraumatiese stres gediagnoseer, maar sê toe hy deur ’n sielkundige afgeboek is vir drie maande het sy bevelvoerder sy siekverlof geweier.

In 1992 het hy sy ontslag uit die polisie gekoop.

Sedertdien het hy ’n paar ondernemings gehad, ’n boek geskryf en homself uit sy huwelik gedrink, maar steeds wou die moord op Nyoka hom nie los nie.

Marais sê hy wil die staat “verantwoordelik hou” vir sy gesondheid asook die “vernietiging van my familie en hele menswees”.

“Ek het gehoop selfmoord sou die ding agter my sit, maar toe nie. Toe gaan lê ek maar die bekentenis af, dat ek darem net een goeie ding in my lewe kon doen.”

Hy sê hy vrees nie tronkstraf nie, maar hoop op versagtende omstandighede omdat hy self na vore gekom het.

Die KwaZulu-Natalse polisie wou nie enige navrae oor Marais se bekentenis beantwoord nie.

Nyoka se suster Alegria het nie op verskeie navrae gereageer nie.

’n Hoërskool in Daveyton is sedertdien na Caiphus Nyoka vernoem terwyl die ANC-tak in Daveyton ook as die Caiphus Nyoka-tak bekend staan.

Meer oor:  Johan Marais  |  Jan Rodriques  |  Caiphus Nyoka  |  Aktivis  |  Polisieman  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.