
David Tembe, hoof van die Johannesburgse metropolisiediens, spreek die media toe. Foto: Bonolo Selebano
Nooddienspersoneel van die Johannesburg-metro het sedert die begin van die jaar al onder minstens 12 aanvalle deurgeloop.
David Tembe, hoof van die Johannesburgse metropolisiediens, het Woensdag op ’n mediakonferensie in die stad gesê net in die afgelope week was daar drie aanvalle op paramedici terwyl hulle aan diens was.
Volgens die metro se veiligheidsafdeling is daar ’n merkbare toename in die aantal aanrandings en aanvalle op paramedici, asook die kaping van nooddienspersoneel wat na noodgevalle uitgeroep word.
“In die afgelope week was daar drie voorvalle en daar was meer as tien voorvalle sedert die begin van die jaar,” sê Tembe.
Net die naweek is nooddienspersoneel wat op ’n voorval van aanranding in Cosmo City gereageer het, aangeval en het die gemeenskap hul voertuig beskadig.