Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Toeriste loop deur onder kapings, rooftogte

Toeriste aan die Laeveld van Mpumalanga het die afgelope week onder verskeie kapings en rooftogte deurgeloop.

Die aanvalle op toeriste moet onmiddellik tot ’n einde kom, want dit benadeel die ekonomie van ons provinsie.
Gabisile Shabalala

Gabisile Shabalala, LUR vir veiligheid in Mpumalanga, het die voorvalle in Graskop, Hazyview en Sabie ten sterkste veroordeel.

Vier van die voorvalle het in die Sabie en Graskop-gebied gebeur. Nóg ’n kaping en rooftog is naby Witrivier aangemeld.

Shabalala sê in al die voorvalle het kapers motors voorgekeer in afgeleë beboste gebiede en die insittendes van waardevolle items, geld en bankkaarte beroof.

Volgens die polisie se inligting wil dit voorkom asof die booswigte die toeriste eers dopgehou het by van die toeristeaanloklikhede in Mpumalanga voordat hulle toegeslaan het.

“Die aanvalle op toeriste moet onmiddellik tot ’n einde kom, want dit benadeel die ekonomie van ons provinsie omdat ons op toerisme staatmaak,” het Shabalala gesê.

In ’n afsonderlike voorval verlede week is vyf Mosambiekers in die sakekern van Mbombela (Nelspruit) deur drie mans met messe aangehou.

’n Onbekende aantal rowers het in ’n Volkswagen Polo gery en die Mosambiekers in Ferreirastraat gekaap. Een van die rowers het probeer om die motorsleutels te gryp terwyl sy makkers die mense uit die motor geboender het.

Die bestuurder van die motor het homself probeer verdedig en is toe met ’n mes in sy bors gesteek. Die booswigte het in die harwar gevlug.

Shabalala sê die aanvalle op toeriste stel Mpumalanga in ’n swak lig. “Dit verdryf ook moontlike beleggers. Toerisme speel ’n belangrike rol om die ekonomie van ons provinsie te laat groei en verskaf werk aan arm gemeenskappe.”

Sy het ’n beroep op die publiek gedoen om saam met die polisie te werk om misdaad hok te slaan.

Die Kruger Laeveld-sakekamer het die aanvalle op toeriste, wat veral oor die langnaweek gebeur het, veroordeel.

Oupa Pilane, president van die Kruger Laeveld-sakekamer, sê die veiligheid van toeriste is van die grootste belang.

“Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat daar nie weer sulke aanvalle is nie. Ons is dankbaar vir die hulp van die polisie en die departement van veiligheid.”

Meer oor:  Mpumalanga  |  Misdaad  |  Toeriste  |  Rooftogte  |  Kapings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.