Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tom Gouws: Dié Sudoku sal oningevul bly . . .
Tom Gouws, letterkundige, skrywer en digter.Foto: Verskaf

By die skrywer Tom Gouws (56) se werktafel is nou ’n leë stoel wat nooit weer gevul sal word nie.

Teen die muur bokant die houtlessenaar in die hoofslaapkamer hang ’n wit-en-swart foto van Gouws toe hy ses maande oud was. Daarlangs ’n 2014-skildery van hom, deur Willem Pretorius.

Op die tafel lê die boek The Names of God deur Andrew Jukes, en ’n half ingevulde Sudoku-blokkie waarmee Gouws nog onlangs besig was.

Hy sal egter nie die geleentheid kry om dit te voltooi nie, nadat hy Woensdagaand in sy huis op ’n landgoed aan die ooste van Pretoria, net buite die stad, vermoor is.

Gouws het sowat twee jaar in dié huis saam met sy vrou, Retha, en hul jongste kind, Josua (17), gewoon.

Toe hulle omstreeks 20:00 na ’n dag in Pretoria tuiskom, het ’n groep gewapende mans hulle ingewag. Gouws wou sy vrou beskerm. Die rowers het hom egter oor die kop geslaan en van agter in die hart geskiet.

Daar is voorheen in hul afwesigheid by die huis ingebreek.

Teen die muur bokant die houtlessenaar in die hoofslaapkamer waar die skrywer, Tom Gouws gewerk het, is ’n wit-en-swart van hom as ses maande oue baba. Daarnaas hang ’n skildery van hom deur Willem Pretorius. Gouws is Woensdagaand vermoor.Foto: Ischke de Jager

Wit rose

Donderdagoggend is die atmosfeer in die huis gedemp. Familielede en polisiebeamptes kom en gaan.

Op die eetkamertafel staan ’n glasvaas met wit rose. Die koppe hang, asof die rose weet van die tragedie.

“Dit is ’n geweldige skok. Jou lewe verander in 10 sekondes,” sê Retha Gouws.

Die Gouws-egpaar sou in September vanjaar hul 34ste huweliksherdenking gevier het. Hulle het mekaar ontmoet toe hulle aan die Potchefstroomse Universiteit gestudeer het en “was baie verlief,” vertel Retha.

’n Gebinde weergawe van Tom Gouws se doktorale proefskrif wat onder meer oor Breyten Breytenbach se gedigte handel, is onder die boeke wat op sy werkstafel opgestapel lê.Foto: Ischke de Jager

“Ons kon net stil bymekaar wees, en dit was lekker. Dit is lekker om iemand te hê wat jou verstaan en goed is om bymekaar te wees. Daar is ’n intimiteit wat jy nie op ’n ander manier kry nie.”

Gouws sou volgende Woensdag 57 jaar oud geword het.

“Dit is baie moeilik. Die werklikheid het nog nie deurgedring nie, want ons is nou besig met die formaliteite. Die realiteit sal ons eers later tref.”

Oor die voorval sê sy dat sy “heeltemal buite” haarself was.

Sy het nie seergekry nie, maar haar arms is blou, vermoedelik waar die rowers haar gegryp het.

“Hy is die een wat altyd vir ons gesê het om nooit terug te baklei nie.”

Die ATKV-veertjie-toekenning wat Tom Gouws vir sy digbundel Ligloop in 2011 gewen het, is op sy boekrak in die studeerkamer.Foto: Ischke de Jager

Letterkunde en literatuur

Retha sê Gouws se dood is ’n groot verlies vir die letterkunde en literatuur, maar die verlies geld ook ander vlakke van sy lewe.

“Ek glo dinge gebeur soos dit moet gebeur en dis iets wat ek weet hy ook geglo het. Ek is seker hy wou nie nou sterf nie. Tom het absoluut sy lewe in die Here se hande gesit en hy het gevoel die Here het beheer oor sy lewe en dit is wat ons glo.”

“As dit nou moet wees dat hy moes sterf, om watter rede ook al, is dit baie moeilik vir my om vrae te vra daaroor want ek ken nie die antwoorde nie.”

Die tafel in die hoofslaapkamer waar Tom Gouws gewerk het. Op die tafel is ’n half ingevulde Sudoku-blokkie en die boek The Names of God deur Andrew Jukes. Foto: Ischke de Jager

Gouws se vyfde kleinkind, ’n meisie, word na verwagting oor ’n maand gebore.

“Hy sou baie graag sy kinders en kleinkinders verder wou sien grootword. Hy was baie erg oor sy rol as pa en oupa, en hy was ’n baie goeie oupa,” sê Retha.

“Die letterkunde was nie vir hom die belangrikste deel van sy lewe nie – sy rol as pa was vir hom die belangrikste.”

Hy was die gelukkigste as hy net by sy kinders en kleinkinders kon wees.

“Vir hom was die lekkerste ding om saam met almal om ’n eetkamertafel te sit. Ek het hom elke Vadersdag bedank vir die goeie pa wat hy is.”

Tom Gouws het die boek The Names of God deur Andrew Jukes gelees en was onlangs besig met ’n Sudoku-blokkie. Dit is op die houtlessenaar in sy kamer. Foto: Ischke de Jager

‘Net die Here kan krag gee’

Gouws was besig met ’n projek oor die digter Breyten Breytenbach.

“Die boeke lê daar op ’n hoop in die kamer. Dit is jammer dat hy dit nie kon klaarmaak nie, maar dan was dit ook nie bedoel om klaar te wees nie.”

Sy beskryf Tom as “ ’n baie onselfsugtige mens”.

“Dit is een van die eienskappe van hom wat my altyd die meeste opgeval het. Hy het ook ’n emosionele register gehad wat ek dink ek nie altyd het nie, wat baie gehelp het vir balans in die gesin. Hy kon huil, wat nie baie mans kan doen nie.”

Oor die pad vorentoe sê Retha: “Net die Here kan vir ons krag gee om van dag tot dag te beweeg. Genadiglik weet ek nie wat voorlê nie, maar ek sal nie gaan lê nie.”

Die huis op die landgoed aan die ooste van Pretoria waar die skrywer Tom Gouws Woensdagaand vermoor is.Foto: Ischke de Jager

Skootrekenaar

Die rowers het gevlug met selfone, ’n handsak en ’n skootrekenaar, waarop al Gouws se werk gestoor was.

Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.

Bekendes het hul medelye betoon na die dood van die skrywer.

Bobby van Jaarsveld sê op Instagram dat Gouws hom die meeste geleer het van wat hy van God weet.

“Ek is jou ewig dankbaar. Jy het ewige impak op my lewe gehad. Nou moedig jy ons aan as deel van die wolk van getuies,” het Van Jaarsveld geskryf.

“Jissie man, kan jy dit glo . . . ek moet sê ons almal steier ’n bietjie onder ’n sense of disbelief,” was die reaksie van die sanger Coenie de Villiers, berig Jo Prins.

Gouws sou Donderdag ’n TV-opname doen vir ’n reeks oor Avbob se landwye poësieprojek. De Villiers is een van die aanbieders.

“Dit maak nie saak of jy wit of swart is nie, dis ’n verskriklike ding. Hoëprofiel-persoonlikhede lei nou maar net tot groter koerantopskrifte . . . maar die feit van die saak is dat enige Suid-Afrikaner wat onder geweld ly, een te veel is.

“Tom was ’n wonderlike man en ’n wonderlike digter. Dis ’n verlies vir die taal en ’n verlies vir die letterkunde.”

  • Bykomende verslaggewing deur Elise Tempelhoff en Christiaan du Plessis.
Meer oor:  Tom Gouws  |  Pretoria  |  Rowers  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.