Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Toneel ‘vreemd’ waar oorlogsheld vermoor is

’n Held uit die Brug 14-veldslag tydens die Suid-Afrikaanse Weermag se Operasie Savanah in die destydse Grensoorlog in Angola en een van die min wat met ’n Honoris Crux- goue medalje vir dapperheid vereer is, het geen enkele woord hieroor aan sy buurman van die afgelope dekade gerep nie.

“Nie een enkele woord daaroor nie. Ek het gister (Sondag) die eerste keer daarvan te hore gekom toe die polisie dit (die sertifikaat) op die moordtoneel gesien het.”

So sê Ignaz Streicher, buurman van die vermoorde Dave Wessels (65) wie se lyk Sondag omstreeks 06:00 op sy kleinhoewe Avondster in Viljoenskroon, onder ’n bebloede duvet aangetref is.

Wessels, wat sy een been in die oorlog verloor het, is destyds vir ’n heldedaad met die Honoris Crux- goue medalje vereer. Hy het in Desember 1975 in Angola ’n brug in ’n koeëlreën oorgesteek om ’n gewonde FNLA-soldaat terug na die Suid-Afrikaanse kant te bring.

Dave Wessels in sy jonger dae. Foto: Verskaf

’n Sertifikaat oor sy heldedaad en foto’s uit sy weermagdae hang steeds in sy vyfslaapkamerhuis op die kleinhoewe.

Hy het die afgelope sowat tien jaar alleen op die kleinhoewe gebly en vee gekoop en verkoop.

Streicher sê Wessels se moordenaar of moordenaars het elke deel van die vyfslaapkamerhuis deeglik deursoek.

Groot moeite is ook gedoen om seker te maak dat niemand buite die huis onraad sou vermoed nie. Alles rondom die toneel was “vreemd”, sê hy.

Volgens Streicher, wat eers Sondagoggend op die kleinhoewe aangekom het, het die moordenaars genoeg tyd gehad omdat elke kas, laai en deur binne die huis oop was. Daarmee saam het hulle ook die diefwering wat oopgebreek is, weer teruggebuig, die gordyne reggetrek en die huis gesluit sodat dit sou lyk asof Wessels nie tuis is nie.

Die sertifikaat waarmee Dave Wessels vir sy heldedaad vereer is nadat hy in Desember 1975 in Angola in ’n koeëlreën ’n brug oorgesteek het om ’n gewonde FNLA-soldaat terug na die Suid-Afrikaanse kant te bring. Foto: Verskaf
Dave Wessels
Dave Wessels Foto: Verskaf

Streicher sê die moordenaars het die vrieskas na buite geskuif en al die vleis daaruit in Wessels se Toyota Hilux-bakkie gelaai voordat hulle daarmee gevlug het. Die bakkie is later verlate in Stilfontein gevind.

Hy het sy buurman van die afgelope dekade as ’n stil en rustige mens beskryf wat altyd op sy eie was.

“Sy teenwoordigheid en buurmanskap word reeds erg gemis.”

Streicher sê die gemeenskap kom Maandag omstreeks 18:00 by Wessels se kleinhoewe vir ’n gebedsbyeenkoms byeen.

Volgens hom is die gemeenskap geskok, in rou en diep geraak deur Wessels se moord.

Die polisie ondersoek ’n klag van moord en roof.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Dave Wessels  |  Viljoenskroon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.