Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Top-afrigter van Potch beken skuld op kokaïen-klag
Werner Burger Foto: Facebook
Werner Burger (regs) by Chederick van Wyk en Joné Kruger, twee nasionale atlete wat hy afrig.Foto: Facebook

’n Nasionale top-atletiekafrigter van Potchefstroom het onlangs erken hy het kokaïen gekoop.

“Ek het geweet wat ek doen is verkeerd en het nou volle berou daaroor,” skryf Werner Burger (41) in sy beëdigde verklaring oor die gebeure van byna twee jaar gelede.

Burger se benoeming as die Noordwes-Universiteit (NWU) se atletiekafrigter van die jaar, is intussen teruggetrek hangende ’n tugproses teen hom weens die kokaïen-oortreding.

Hy het verlede maand ’n skulderkenningsboete van R6 000 betaal nadat hy op Nuwejaarsaand 2018 met kokaïen in sy besit betrap is.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig Burger het skuld beken op ’n aanklag dat hy ’n gewoontevormende middel besit of gebruik het.

Die saak teen hom is verskeie kere uitgestel voordat dit verlede maand afgehandel is, het Botma gesê.

Hy rig onder andere vir Chederick van Wyk, ’n nasionale 100 m- en 200 m-atleet, en Joné Kruger, ook ’n nasionale atleet in verspring, af.

Burger het Woensdag gesê hy gaan nie nou verdere kommentaar lewer nie.

Hy rig onder andere vir Chederick van Wyk, ’n nasionale 100 m- en 200 m-atleet, en Joné Kruger, ook ’n nasionale atleet in verspring, af. Burger rig ook top-atlete van Potchefstroom Gimnasium af wat nasionaal presteer.

Kruger het Woensdagmiddag gesê sy voel “oorweldig en geskok” oor Burger se kokaïen-belydenis.

Werner BurgerFoto: Facebook

“Ek was glad nie hiervan bewus nie. Werner is al agt jaar, sedert ek op skool was, my afrigter. Hy is ongelooflik goed, lojaal, toegewyd en gefokus. Werner het my van ’n gewone atleet tot ’n presteerder ontwikkel. Hy gaan uit sy pad om sy atlete tegemoet te kom en daag by elke oefening op, al is dit op ’n Sondagaand.”

Kruger was onlangs een van ’n handjievol studente in die land wat gekwalifiseer het om aan die atletiek-wêreldkampioenskappe vir studente in Europa deel te neem. Sy studeer farmakologie aan die NWU-Pukke.

In Burger se beëdigde verklaring waarin hy op 17 September vanjaar skuld beken, erken hy hy het die dwelm onwettig in sy besit gehad.

“Ek, my vriende en vriendin het onsself die aand in Gheko’s (’n plaaslike kuierplek) geniet,” lui die verklaring. “Ons het vanaf omtrent 17:00 tot 23:00 alkohol gedrink. Daarna het ons besluit om huis toe te gaan en onsself verder te geniet. Gedurende die aand het my vriende gepraat oor mense wat hulle ken wat vir ons kokaïen kon gee.

“Hulle het vir my die adres gegee en ek het die verkeerde besluit geneem om daar kokaïen te gaan koop. Kort daarna het die polisie my voorgekeer en die kokaïen by my gekry. Ek het geweet wat ek gedoen het, is verkeerd en het volle berou daaroor.”

Burger is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisielede wat daarby betrokke was, beskryf in hul verklarings hoe hulle die betrokke aand in Reitzstraat in Potchefstroom patrollie gery het. Hulle het ’n Volkswagen Polo opgemerk wat by ’n huis in dié straat gestop het. ’n Man het daarna uit die erf gekom, na die Polo gestap en met die bestuurder gepraat.

Die man buite die voertuig is kort daarna weer die erf in. Die bestuurder van die Polo (Burger) het weggery, maar die polisielede het hom voorgekeer.

Nadat die lede hulself geïdentifiseer het, het Burger sy linkerhand oopgemaak. Daar was twee sakkies met wit poeier in sy hand – altesaam 1,18 g kokaïen. Hy het dit aan die polisie oorhandig, waarna hy in hegtenis geneem is.

Louis Jacobs, NWU-woordvoerder, het Woensdag gesê die universiteit is bewus van Burger se skuldbekentenis. “Ons werknemerverhoudinge-kantoor is besig met ’n tugproses. Die moontlikheid van tydelike skorsing hangende die afhandeling van die ondersoek is deel van die proses wat nou aan die gang is.”

Roelof Oosthuizen, hoof van Potchefstroom Gimnasium, sê Burger rig al vir 15 jaar atlete van die skool af. “Ons beheerliggaam vergader volgende week oor die (kokaïen-) gebeure. Ons moet eers die feite oor die saak verifieer en regsaspekte uitklaar voordat besluite oor verdere optrede geneem kan word.”

Meer oor:  Dwelms  |  Kokaïen  |  Atletiek  |  Atleet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.