Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Topspeurder in hof wat glo kollega in kop skiet
Sers. Marlon Appollis
Sers. Marlon Appollis Maandag in die landdroshof in Franschhoek waar hy op aanklag van strafbare manslag verskyn het. Foto: Jaco Marais
Netwerk24 jaco marais

Die topspeurder wat bekendheid verwerf het nadat hy die vermoorde Matie-student Hannah Cornelius se moordenaars help vang het en ook Henri van Breda en Jason Rohde help vastrek het, het Maandag in die hof in Franschhoek verskyn nadat hy glo die naweek sy kollega in die kop geskiet het.

Sers. Marlon Appollis (41), wat gehelp het om dié drie hoëprofielsake in Stellenbosch op te los, het die naweek agter tralies deurgebring nadat hy glo sers. David Hoffman (40) Saterdagaand doodgeskiet het.

Appollis, lid van die bende-eenheid, is ná die voorval in hegtenis geneem nadat die skietery glo Saterdagaand in Hoffman se huis in Skoolstraat in Franschhoek gebeur het.

Appollis het Maandag half verslae in die landdroshof in Franschhoek verskyn waar hy die beskuldigdebank skynbaar ongemaklik betree het.

In die hof het familie en vriende van Hoffman die openbare galery volgepak. Hoffman se vrou en sy ma was albei erg ontsteld. Albei het gesnik en gehuil, waarna 'n besorgde polisielid sy ma versoek het om liewer buite te wag totdat die saak begin.

Die staat het aangevoer dat daar nie foto's van Appollis in die hof geneem mag word nie omdat hy sake wat met bendegeweld verband hou ondersoek. Appollis het in die hof gesê sy lewe en dié van sy familie en kinders kan in gevaar gestel word. 'n Fotograaf van Netwerk24, Jaco Marais, moes ook oor die staat se aansoek getuig. Die hof het later beslis dat daar wel foto's geneem kan word.

Appolis word van stafbare manslag aangekla.

Sers. David Hoffman
Sers. David Hoffman

Netwerk24 het Sondagaand berig dat die polisie en die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) se weergawes verskil van wat Saterdag gebeur het toe Hoffman geskiet is.

Volgens die polisie het Hoffman, wat nie aan diens was nie, hulp van sy kollegas ingeroep toe ’n groep mense op sy huis toegesak het.

Brig. Novel Potelwa, polisiewoordvoerder, sê ’n groep ontstoke mense het by die huis opgedaag, waarna die polisie na die toneel ontbied is. Die polisie het nie uitgebrei oor waaroor die groep ontsteld was nie.

Dit is nie duidelik wat daarop gevolg het nie, maar Potelwa sê Appollis was by Hoffman toe hy geskiet is, waarna hy in hegtenis geneem is.

Sontaga Seisa, nasionale woordvoerder van Opod, sê Hoffman is na bewering in ’n onenigheid geskiet.

“Daar was na bewering om 22:40 ’n woordewisseling by ’n vleisbraaiery wat by ’n huis in Franschhoek gehou is en wat die oorledene sowel as die verdagte bygewoon het,” sê Seisa.

“Die oorledene én die verdagte is verbonde aan die polisie se bende-eenheid. Die 41-jarige verdagte het na bewering by die vleisbraaiery sy vuurwapen uitgehaal en sy 40-jarige kollega doodgeskiet. Die polisielid is in hegtenis geneem, maar die motief vir die moord is nog onduidelik.”

Appollis het homself vroeër in ’n onderhoud met Hanlie Retief van Rapport as “hardegat en bedonnerd” beskryf en oor die Jason Rohde-, Henri van Breda- en Hannah Cornelius-sake gesê dat hy dié moordenaars “sonder ’n return ticket” tronk toe gestuur het.

Hy het die Van Breda-moordtoneel as die grusaamste in sy loopbaan beskryf.

Henri van Breda is in hegtenis geneem vir die 2015-moord op sy ma, pa en broer, terwyl hy ook van poging tot moord op sy suster aangekla is. Hy dien tans tronkstraf uit.

Rohde is vasgetrek nadat hy sy vrou in 2016 in die hotel op die Spier-landgoed vermoor het en met die toneel gepeuter het in ’n poging om die indruk te skep dat sy haar eie lewe geneem het.

Cornelius is in 2017 in Stellenbosch ontvoer, waarna sy verkrag en vermoor is.

Die saak teen Appollis is tot 26 September uitgestel om die Nasionale Vervolgingsgesag kans te gee om te besluit of die finale aanklag teen Appollis as strafbare mansslag sal voortgaan en of dit na aanklag van moord verander sal word. 

Appollis is op borgtog van R1 000 vrygelaat en het saam met lede van die bende-eenheid van die hof af weggery. 

Meer oor:  Franschhoek  |  Moord  |  Hof  |  Marlon Appollis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.