Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Townships loop ergste deur onder misdaad

Verreweg die meeste misdaad in Suid-Afrika gebeur in townships en in middestede, terwyl voorstede in verhouding heelwat veiliger is. Dit blyk uit misdaadstatistieke vir 2018-’19 wat genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, Donderdag bekend gemaak het.

Altesaam 15 098 motorkapings is die vorige boekjaar in townships aangemeld, 1 534 in middestede en 110 op die land se snelweë teenoor 97 motorkapings in voorstedelike gebiede. Ook sake-ondernemings in townships loop buite verhouding deur onder rowers.

Tussen April verlede jaar en Maart vanjaar is 6 039 spazawinkels beroof. Hierteenoor is 2 788 klerewinkels, 2 447 juwelierswinkels, 2 391 restaurante en 294 supermarkte beroof.

Die meeste rooftogte van ondernemings het in landelike gebiede plaasgevind (6 101), gevolg deur townships (5 162), middestede (3 238) en dan voorstede (3 140).

Dr. Johan Burger, polisiekenner van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê die syfers dui op die direkte verband tussen die land se sosio-ekonomiese probleme en misdaadpatrone.

30% van alle moorddossiere hou verband met drank.

“Ons navorsing toon daar is ’n sterk verband tussen die hoë vlakke van werkloosheid en kontakmisdaad soos poging tot moord, aanranding, gewapende roof en seksuele misdade,” sê hy.

Volgens genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van misdaadnavorsing en statistieke, staan die moordsyfer nou op 36,4 per 100 000 mense teenoor 35,8 per 100 000 in die vorige boekjaar.

Verreweg die meeste moorde is gepleeg oor naweke – 10% daarvan volgens die polisie se statistieke tussen 21:00 Saterdagaande en 03:00 Sondagoggende.

“Ek sê glad nie arm mense is misdadigers nie. Maar dit is wel so dat mense wat nie werk kry nie gefrustreerd raak en dit plaas geweldig baie druk op huishoudings.

“Mans gaan drink en raak by bakleiery betrokke. Hulle gaan dronk huis toe en raak in argumente met hul gesinslede betrokke. 30% van alle moorddossiere, 50% van dossiere wat geopen is vir poging tot moord en 18% van huishoudelike geweld hou verband met drank.

“Dit beteken die polisie het geen beheer oor die helfte van die land se ernstige misdaad nie, want hulle kan tog nie keer dat mense in hul huishoudings met mekaar ba­klei nie. Hulle kan ook nie mense keer om te drink nie,” sê hy.

Daarom meen Burger daar behoort op ander vlakke as net polisiëring ingryping te wees om mense se gedrag te verander.

“Dit is waar goed soos ekonomiese groei en werkskepping ’n verskil sal maak,” sê hy.

Burger sê die ISS het aan die polisieminister voorgestel dat die statistikus-generaal eerder misdaadstatistieke bekend maak wat die boodskap uitstuur dat die polisie nie alleen verantwoordelik is vir die land se misdaadprobleem nie.

“Ander staatsinstellings soos die departemente van maatskaplike ontwikkeling, onderwys en samewerkende regering behoort ook te verduidelik watter rol hulle speel om maatskaplike probleme en misdaad aan te pak.

“Plaaslike regerings sal moet kom verduidelik oor protesoptogte aangesien hulle die oorsaak daarvan is,” sê hy.

Wat plaasmoorde betref, is Burger veral bekommerd oor die getal bejaardes wat aangeval word. Volgens die jongste syfers is 13 mense tussen 59 en 71 jaar op plase vermoor. Hierteenoor is een persoon jonger as 20, vyf tussen 20 en 29, drie tussen 30 en 39 en vier tussen 50 en 59 vermoor.

“Bejaardes word beskou as sagte teikens omdat hulle hulle minder kan verdedig. Hulle is ook minder paraat en sonder hulself af, terwyl jonger mense meer betrokke is by veiligheidsnetwerke en hulself bewapen,” sê hy.

Burger sê genl. Sitole het met sy aanstelling ’n geroeste masjien geërf. “Die polisie se misdaadintelligensie is verwoes onder lt.genl. Richard Mdluli (voormalige hoof van misdaadintelligensie wat van moord en korrupsie aangekla word). Eerlike en toegewyde beamptes het weens politieke inmenging en staatskaping die diens verlaat of is doelgerig uitgewerk.

“Hulle is deur onbekwame en oneerlike mense vervang. Sitole se grootste uitdaging is om van hulle ontslae te raak en geskikte plaasvervangers te kry. Dit is nie iets wat oornag gebeur nie,” sê Burger.

Daar was darem ligpunte.

“Transito-rooftogte het met 23% afgeneem danksy geteikende polisiëring om die base van georganiseerde misdaadsindikate in hegtenis te neem.”

Meer oor:  Misdaadsyfers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.