Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Trans, ’n hartaanval én Covid-19’

Toe die polisie en private ondersoekers Vrydag by ’n Midrandse haarsalon toeslaan om Grant Nelson, ’n vermeende bedrieër, in hegtenis te neem, was hulle reg om ’n man óf ’n vrou in hegtenis te neem.

Chad Thomas sê Grant Nelson se inhegtenisneming was een van die meer ongewones tot dusver. Foto: Deon Raath

Chad Thomas, uitvoerende hoof van IRS Forensic Investigations, sê hulle het inligting ontvang dat Nelson by ’n haarsalon in die Mall of Africa werk en dat hy besig is om sy geslag te verander. “Dit het sake baie gekompliseer,” sê Thomas.

Nelson word daarvan beskuldig dat hy met beddegoed op sy Facebook-blaaie Grant’s Goodies en Infamiss gesmous en duisende rande ingevorder het sonder om ooit die produkte te lewer.

“As Nelson se oorgang so ver gevorder was dat hy nou as vrou identifiseer, sou daar ’n vrouepolisielid teenwoordig moes wees om haar te deursoek. Sy sou ook by die polisiekantoor in die vroueselle aangehou moes word. Ons was Vrydag reg vir enige gebeurlikheid,” sê Thomas.

Nelson het egter steeds as ’n man geïdentifiseer en in hegtenis geneem.

As Nelson nou as vrou identifiseer, sou daar ’n vrouepolisielid by moes wees.

“Toe die polisiebeamptes hom vra of hy Grant Nelson is, het hy dit eers bevestig en toe probeer ontken. Toe is hy skielik Francois, maar niemand het vir sy streke geval nie en hy is aangekeer.”

Die ongewone verhaal was steeds nie verby nie.

Toe hulle met Nelson by die polisiekantoor aankom, het hy skynbaar ’n hartaanval gekry. Die polisie het ’n ambulans ontbied, maar op pad hospitaal toe het die paramedici vasgestel sy hart makeer niks.

Toe sê Nelson weer hy was in aanraking met iemand wat Covid-19 het.

“By die hospitaal het hulle gesê hy praat snert en hy is terug na die polisieselle. Die ondersoekbeampte van Fochville het toe besluit genoeg is genoeg en deurgery om Nelson te gaan haal. Hy word nou in Fochville se selle aangehou totdat hy in die hof verskyn,” sê Thomas.

Karinka Barnard, een van Nelson se vermeende slagoffers, is verheug. Sy sê sy het R32 000 se skade gely toe goed wat sy by hom bestel het nooit afgelewer is nie.

“Ons klomp slagoffers het gisteraand ’n Skype-braai gehou om sy inhegtenisneming te vier,” sê sy.

John Alexander van Royal Investigations, wat in opdrag van meer as tien slagoffers op Nelson se spoor was, het Vrydag aan Rapport gesê hy is verheug oor die inhegtenisneming. “Ons was lank op sy spoor . . . Nelson is nou waar hy hoort, in die selle.”

Meer oor:  Bedrog  |  Transgender  |  Haarkapper  |  Mall Of Africa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.