Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Transitoroof neem met 56% toe

Transitorooftogte het met 56% toegeneem, wys die jongste misdaadstatistieke.

Norman Sekhukhune, nasionale hoof van die polisie se eenheid vir misdaadnavorsing en statistiek, het Dinsdag aan parlementslede gesê “sedert die 2014-’15-tydperk het dié misdaadsyfer ongelukkig vir die afgelope drie jaar gestyg”.

Transitorooftogte het laas in 2008-’09 toegeneem en die laagste syfer was in 2014-’15.

Statistieke toon 137 transitorooftogte is aangemeld in 2015-’16, 152 in 2016-’17 en 238 in 2017-’18 – ’n 56,5%-styging in die afgelope boekjaar.

Die meeste van die rooftogte het op ’n Maandag tussen 08:00 en 16:00 plaasgevind. Twee omstanders en 23 sekuriteitswagte is in dié rooftogte dood.

Grafika24

Die meeste transitorooftogte het in Gauteng plaasgevind, met 80 sake wat aangemeld is. In Noordwes het dit met 475% toegeneem, met 23 sake wat in 2017-’18 aangemeld is vergeleke met verlede jaar se vier.

In die Wes-Kaap het minder transitorooftogte voorgekom – 35 sake is in 2016-’17 aangemeld teenoor 2017-’18 se 26.

Die meeste van die transitorooftogte het op paaie gebeur (84), gevolg deur sakepersele (66), winkelsentrums (40) en winkels by vulstasies (21). In die meeste gevalle is die sekuriteitswagte se vuurwapens van hulle afgeneem.

Motorkapings het met 2,3% afgeneem, met 16 325 sake in 2017-’18 teenoor die vorige jaar se 16 717.

Byna die helfte van die aangemelde kapings het die afgelope jaar in Gauteng plaasgevind.

Die grootste aantal motorkapings het in Nyanga in die Wes-Kaap voorgekom, gevolg deur Jeppe, Booyens, Honeydew en Moffat View in Gauteng.

Vragmotorkapings het met 1,6% toegeneem, met 1 202 sake wat in 2017-’18 aangemeld is vergeleke met verlede jaar se 1 183.

Volgens Bheki Cele, minister van polisie, het die gety teen transitorowers gedraai omdat die meeste van die beweerde meesterbreine onlangs in hegtenis geneem is.

“Die eenheid vir misdaadintelligensie werk hard en dit het gehelp om transitorooftogte te verminder,” het Cele op ’n perskonferensie gesê.

Cele was geskok om te hoor dat sommige van die transitoroof-verdagtes op borgtog vrygelaat is.

Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê hulle sal borgtog vir verdagtes teenstaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.