Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Transitorooftogte 'buite beheer' en 'soos oorlog'

Transitorooftogte is buite beheer – so erg dat die bedryf onvolhoubaar word, sê Fidelity Security.

Statistieke wat deur die Suid-Afrikaanse bankwese-risiko-inligtingsentrum (Sabric) beskikbaar gestel is, wys dat veral Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap die afgelope jaar ’n skerp toename in transitorooftogte ondervind het.

“Ondanks die pogings om yweriger met die owerhede en ander belanghebbendes saam te werk, styg die aantal aanvalle dwarsoor die bedryf en ’n rekordgetal van 135 voorvalle is al vanjaar aangemeld,” sê Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van Fidelity.

In 2014 is 180 voorvalle aangemeld. Sedertdien het dit skerp toegeneem en in 2017 was daar 378.

Bartmann sê verlede maand het Fidelity meer as R4,5 miljoen aan ondersteuning bestee om hulpbronne en bates te verseker en personeel te beskerm.

“Misdadigers het al hoe dikvelliger geword. Sonder nog bykomende hulpbronne uit ander gebiede is dit moeilik om dié aanvalle die hoof te bied.”

Een van dié gebiede moet gefokusde polisie-aandag wees, meen Anneliese Burgess, skrywer van Heist! South Africa’s Cash-in-Transit Epidemic Uncovered.

Die twee transitovoertuie wat op 17 Mei in Boksburg onder ’n groep rowers deurgeloop het.Foto: Felix Dlangamandla

“Ons het spesialiseenhede nodig om op transitorooftogte te fokus. Hulle moet beman word deur hoogs ervare speurders en polisielede wat nie deel van die korrupsienetwerke binne die polisiediens is nie,” sê Burgess.

Geld is die groot dryfveer vir transitorowers en dit blyk al hoe makliker te wees om die kontant in die hande te kry. Volgens Fidelity wys navorsing deur dr. Hennie Lochner, senior lektor in forensiese en misdaadondersoek van Unisa, dat gierigheid ook wetstoepassers soos polisielede, staatsaanklaers en selfs landdroste by transitorowers se web ingetrek het.

Burgess beaam dit.

“Mpumalanga en Limpopo is al lankal die episentrum van hierdie epidemie. Daar is een eenvoudige rede: ’n Swakheid in wetstoepassing en beskerming vir die bendes omdat sleutelwetstoepassers in hul sakke is.”

Nóg ’n transitomaatskappy, SBV, sê hy berei sy sekerheidsbeamptes voor op oorlog.

“Ons moet ons sekerheidsbeamptes voorberei asof hulle oorlog toe gaan, want hulle kan op enige gegewe tydstip aangeval word,” sê Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV.

Die SBV-opleidingsprogram duur sewe weke en volgens Barrett sluit dit intense fisieke en geestelike opleiding in.

Bartmann doen ’n beroep op die regering om transitorooftogte as ’n prioriteitsmisdaad te behandel, Hy sê toegewyde provinsiale transitorooftog-ondersoekspanne moet tot stand gebring word.

Wie is transitorowers?:

Jou buurman kan betrokke wees. Dit is mense wat transitorooftogte aantreklik vind weens die finansiële voordeel, die respek wat hulle in die onderwêreld kry en die redelik klein risiko daaraan verbonde.

Samestelling van die bendes:

Tot 15 mense neem aan die gemiddelde transitorooftog deel, maar ’n bende kan uit tot 30 mense bestaan.

Die “baasbrein” agter die rooftog soek mense wat betroubaar is, vuurwapens kan hanteer, en motorbestuursvaardighede, vorige ondervinding en bewese moed het.

Springstof word gebruik:

Dit is nie toevallig nie dat die meeste van die aanvalle waar voertuie met springstof oopgeblaas word in Mpumalanga, Limpopo en Gauteng plaasvind nie. Dit is myngebiede. Myne gebruik springstof en hulle het werkers wat weet hoe om dit te gebruik. Dit is waar bendes om hulp met springstof aanklop.

Bendes doen hul “huiswerk”:

Hulle monitor die bewegings van die geldwaens wat hulle beplan om aan te val en versamel inligting oor hul roetes, waar hulle parkeer en oplaai- en aflaairoetine. Die geldwaens word gevolg om wegkomroetes te verken en die polisie se reaksie word tot op die laaste minuut bereken. (bron: Anneliese Burgess skrywer van Heist! South Africa’s Cash-in-Transit Epidemic Uncovered.

Meer oor:  Oorlog  |  Transitoroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.