Asof die stresvolle werksituasie wat deur die koronaviruspandemie meegebring word nie genoeg is nie, is die Retreat-kliniek Sondagoggend vir ’n tweede keer binne enkele weke deur rowers geteiken.
Die vorige rooftog by die sentrum was op Kersdag.
Natalie Watlington, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, sê sekuriteitspersoneel en iemand wat gewag het om ’n pasiënt te vervoer is in die voorval beroof.
“Ons is geskok oor die kriminele aanval op ons sekuriteitspersoneel en gemeenskapslede. Dit veroorsaak verdere sielkundige trauma en stres op ons personeel wat met die tweede vlaag van Covid-19 voortveg teen die pandemie,” sê Watlington.
Henry Moses, voorsitter van die sentrum se gesondheidskomitee, sê dit is teleurstellend dat die kliniek nou vir ’n tweede keer deur rowers geteiken is. “Dit is nie reg dat personeel en sekuriteitsbeamptes dié tipe gedrag moet beleef nie.”
Mark Solomons, voorsitter van die Retreat-Steenberg-gemeenskapsvereniging, het gevra dat mense uit die gemeenskap moet help om die kliniek te beveilig.