Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Treine brand, maar wagte weggewys

Terwyl Kaapse treine by die dosyne aan die brand gesteek word en pendelaars op treinwaens aangeval word, word personeel van veiligheidsmaatskappye wat treine en passasiers moet oppas, verhinder om hul werk te doen.

Uitgebrande treinwaens op die Kaapstadse stasie Foto: Adrian de Kock

Dit omdat die Passasierspooragentskap (Prasa) aan die einde van verlede maand die kontrakte van vyf van die sewe veiligheidsmaatskappye wat op die Skiereiland werk, beëindig het sonder om alternatiewe veiligheidsmaatreëls in te stel. In die res van die land is nog 11 kontrakte beëindig.

Dit is gedoen nadat die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela reeds in Augustus 2015 bevind het dat daar ongerymdhede was met die toestaan van verskeie van dié tenders.

Drie van die Kaapse maatskappye het die beëindiging van hul kontrakte in die hof betwis. Ondanks ’n hofbevel op 19 November dat Prasa die maatskappye Supreme Security Services, Chuma Security Services en Sechaba Protection Services toelaat om hul werk te doen totdat alternatiewe veiligheidsmaatreëls getref word, verhinder Prasa steeds dié wagte om aan diens te kom.

16 sóú op brand-nag gewaak het.

16 veiligheidswagte van Su­preme was veronderstel om Woensdagnag op perronne 16 tot 24 van die Kaapstad-stasie diens te doen toe 18 treinwaens op perronne 9, 10, 12, 13 en 15 aan die brand gesteek is. Die polisie sê vier verdagtes is op kringtelevisie geïdentifiseer, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Regter John Hlophe het in sy uitspraak Prasa ook beveel om binne 30 dae ’n gebeurlikheidsplan, wat deur die spoorweë se veiligheidsreguleerder goedgekeur is, aan die hof voor te lê. Prasa moet ook presies sê hoe hy die veiligheid van treine gaan takel en sy voorkomende maat­reëls ten opsigte van diefstal, vandalisme, seksuele aanranding en ander misdadige optrede of bronne van skade uitstippel.

Prasa het reeds aangedui dat hy teen dié uitspraak en ’n soortgelyke uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria gaan appelleer.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het die week ook te velde getrek teen Hlophe se uitspraak.

“Weet hy (Hlophe) hoe om treine te bestuur? Hy moet homself dié vraag afvra voordat hy van homself ’n Mickey Muis maak en ons howe verander in iets wat nie gerespekteer moet word nie,” het Mbalula tydens ’n inspeksie van die beskadigde waens op die Kaapstad-stasie gesê.

Regter wat plan van optrede eis, gekritiseer.

Oor Supreme, Sechaba en Chuma se bewerings dat hul wagte al sedert 2 November deur Prasa by hul onderskeie dienspunte weggewys word, sê Prasa se Kaapse woordvoerder, Riana Scott, dis “interne kwessies” wat deur Prasa hanteer sal word.

Supreme en Sechaba het e-posse aan Rapport gewys waarin hulle Richard Walker, hoof van Metrorail in die Wes-Kaap, smeek om ’n vergadering waar hulle die veiligheid by stasies, veral voor die feestyd, kan bespreek.

Prasa sit boonop sonder ’n veiligheidshoof in die Wes-Kaap nadat Ernest Hendricks in April vanjaar gekors is. Dié skorsing is onlangs opgehef, nadat die kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie beslis het dat dit onregverdig is. Hy is geskors kort nadat hy ’n verdagte gearresteer het wat glo ’n trein aan die brand gesteek en skade van R33 miljoen aangerig het. Hy was net terug by die werk toe hy weer op 20 November geskors is.

Intussen het Prasa aan die tesourie geskryf vir toestemming om vir die volgende drie maande – tot 28 Februarie – af te wyk van die normale tenderproses vir veiligheidsmaatskappye. Volgens die brief is Prasa die afgelope tien weke “toenemend onder beleg” en ondervind hy verskeie uitdagings in veiligheid en ekonomiese sabotasie.

’n Woordvoerder vir die tesourie, Mashudu Masutha, het nog nie teen druktyd op die koerant se navrae gereageer nie.

Nana Zenani, Prasa-woordvoerder, het ook nie op vrae oor dié versoek gereageer nie.

Sedert 2015 is 213 treinwaens in die Wes-Kaap deur brande vernietig. Die skade beloop R643 miljoen.

Niemand is nog suksesvol vervolg nie.

Meer oor:  Treine  |  Veiligheidswagte  |  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.