Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vragmotors met petrolbomme bestook
’n Vragmotor staan in ligte laaie in Bethal, Mpumalanga. Foto: SA Long Distance Truckers Facebookblad

’n Vragmotorbestuurder is dood en nog een is met skietwonde in die hospitaal opgeneem ná die soveelste aanval op vragmotors die afgelope tien dae. Die aanval Maandagaand in Alberton was een van talle dieselfde aand in Gauteng.

Die polisie het op die N3-oprit na Heidelberg afgekom op ’n brandende vragmotor. Hulle het ’n gewonde man langs die vragmotor gekry en ook die lyk van die 45-jarige vragmotorbestuurder. Hy het skiet- en brandwonde opgedoen. Sy naam is nog nie bekend gemaak nie, maar hy het vir ’n vervoermaatskappy van Pinetown gewerk.

Nog ’n vragmotor is in Alberton aan die brand gesteek, maar die bestuurder kon voor die aanvallers vlug. Dieselfde lot het ’n vragmotorbestuurder in Volsloorus te beurt geval. Hoewel sy vragmotor ook uitgebrand is, het hy sonder beserings ontsnap.

Mpumalanga

In Mpumalanga het twee vragmotorbestuurders vroeg Maandag ter nouer nood aan die dood ontkom toe hul vragmotors in Bethal in Mpumalanga met petrolbomme bestook is.

’n Vragmotor wat Maandagaand in Leondale in Johannesburg aan die brand gesteek is.Foto: SA Long Distance Truckers Facebookblad

Konst. Thomas Mogadime, polisiewoordvoerder, het gesê ’n vragmotorbestuurder het Maandagaand langs die Mica-hardewarewinkel afgetrek om te rus en later wakker geskrik toe hy hoor hoe ’n venster breek.

“Die man het geskrik toe hy sien sy vragmotor slaan aan die brand,” het Mogadime gesê.

In ’n afsonderlike voorval moes ’n vragmotorbestuurder ook vlug toe hy skielik vlamme en rook oral gewaar. Die vragmotorbestuurder en sy assistent kon daarin slaag om uit die vragmotor te spring. Mogadime beraam die skade op ongeveer R1,75 m.

Vrystaat

Vyf vragmotors is ook Saterdagaand tussen Parys en Sasolburg in die Vrystaat aan die brand gesteek. Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê die vragmotors moes stop nadat ’n petrolbom na een van hulle geslinger is. Volgens hom is daar na bewering terselfdertyd op ander vragmotors geskiet. “Die bestuurders moes in ’n veld in hardloop om te vlug. Vier ander vragmotors is aan die brand gesteek,” het Makhele gesê.

Met die polisie se aankoms by die toneel het brandbestryders reeds die vlamme geblus. Die vragmotorbestuurders is vir traumabehandeling na die distrikshospitaal in Parys geneem.

Nege vragmotors is op 19 November in Heidelberg in Gauteng aan die brand gesteek. Volgens kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het ’n wit Toyota Quantum en ’n swart Volkswagen-motor die hoofpaaie Donderdag omstreeks 20:30, voor die aanvalle, versper.

“Kort daarna het ’n aantal vragmotors in ligte laaie gestaan nadat dit met petrolbomme bestook is. Sewe vragmotors is op die N3-hoofweg tussen Heidelberg en Vosloorus aan die brand gesteek. Twee vragmotors op die R103-pad het ook deurgeloop,” het Masondo gesê.

“Die motief vir die aanvalle op vragmotors is nog nie duidelik nie,” het Masondo gesê.

Gen.maj. Patricia Rampota, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het opdrag gegee om alle beskikbare hulpbronne aan te wend om die skuldiges aan te keer.

’n Multi-dissiplinêre ondersoekspan het Maandag reeds vyf verdagtes in hegtenis geneem op aanklagte van intimidasie. Die verdagtes was deel van ’n groep betogers, wat Maandag op ’n vragvervoermaatskappy in Alberton toegesak en op werk aangedring het.

Die groep het glo oproerig geraak toe twee van die maatskappy se senior lede aansoekvorms vir indiensneming uitgedeel het.

Een van die nege vragmotors wat op 19 November in Heidelberg verwoes is. Foto: SA Long Distance Truckers Facebookblad

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.