Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tronk toe met dronk ryers – RTMC

As jy drink en bestuur kan jy in die toekoms reguit tronk toe gaan vir sewe dae as die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sy sin kry.

Die RTMC het aan die departement van justisie en korrektiewe dienste voorgestel dat die Strafproseswet gewysig word om mense wat onder die invloed van drank bestuur of te vinnig of roekeloos ry stewiger vas te vat nog voordat hul verhore in die hof begin.

Maar strafregpraktisyns sê dit sal daarop neerkom dat mense gestraf word nog voordat hulle skuldig bevind is.

Soos die wet nou staan, kan dronk motorryers ná hul inhegtenisneming by die polisiekantoor op borgtog vrygelaat word. Die RTMC se voorstel is dat sulke misdrywe geherklassifiseer word tot die groep van ernstige misdade onder bylae 5 van die wet. Oortreders in dié kategorie moet formeel in die hof om borgtog vra, wat tot sewe dae uitgestel kan word, waartydens die beskuldigde dan in die tronk sit.

Die RTMC hoop dit sal die publiek oortuig dié misdade is nie geringe oortredings nie. Hulle glo strenger wetgewing sal die las op die ekonomie verlig – padongelukke kos die staatskas R173 miljard per jaar.

Peter Jay, ’n prokureur wat baie kliënte het wat vir padoortredings gevang word, sê as die voorgestelde wetgewing deurgevoer word, sal al die borgtogaansoeke die hofrolle oorlaai en groter chaos in die howe veroorsaak.

Vir formele borgtogaansoeke moet ’n beëdigde verklaring by die hof ingedien of mondelingse getuienis afgelê word, wat tussen 45 minute en drie uur duur.

Jay sê nie almal wat alkohol inneem, is besope nie.

“Sommige mense is net-net onder die limiet en ander net-net bo. Nie almal se liggame reageer dieselfde op dieselfde hoeveelheid alkohol nie. Nie almal is betrokke in ongelukke wat lei tot lewensverlies nie, maar hulle word nou in dieselfde klas as moordenaars, rowers en verkragters geplaas. Dit is duidelik onredelik.”

Hy sê as die owerhede strenger wil optree, moet hulle eerder die strafsanksie vir sekere misdade verswaar.

“As jy byvoorbeeld gedrink het en jy ry iemand dood, moet die drinkery ’n verswarende faktor wees soos in die Engelse reg. Kla so iemand van moord aan, pleks van strafbare manslag, want hy het met opset gedrink en was roekeloos.”

Jay sê baie mense wat van dronkbestuur aangekla word, word onskuldig bevind, dikwels weens kleitrappery met die vervolging. In die afgelope 11 jaar is nie een van sy kliënte skuldig bevind aan dronkbestuur nie.

Robert van Wyk, ’n prokureur wat spesialiseer in siviele eise deur mense wat onregmatig aangehou word, sê daar is bloot nie genoeg howe en aanklaers om soveel formele borgtogaansoeke te hanteer nie.

Meer oor:  Dronkbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.