Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tugverhoor: Vroue-dominee dros

Die NG dominee wie se bruidegom ure voor hul troue in die Drakensberge in hegtenis geneem is, het nie Donderdag opgedaag vir haar tugverhoor by die NG gemeente Mtubatuba, aan die KwaZulu-Natalse noordkus, nie.

Ds. Etresia van Schalkwyk en George Vorster. Foto: Facebook

Ds. Etresia van Schalkwyk (27) word van oneerlikheid en wangedrag aangekla nadat sy glo nie aan die polisie wou sê waar haar verloofde, George Vorster (32), was terwyl hulle na hom gesoek het nie.

Vorster is in Junie op hul troudag in hegtenis geneem op klagte van diefstal en bedrog, vervalsing en uitgifte. Hy het reeds sy trouklere aangehad toe hy vasgetrek is. Voorvalle wat verband hou met meer as R1 miljoen wat by Van Schalkwyk se vorige gemeente, die NG gemeente Escombe, weggeraak het, word tans ondersoek.

Peet Grobbelaar, ’n Pretoriase prokureur wat namens die gemeente optree, sê Van Schalkwyk het Donderdag ’n konsulent en die voorsitter van die ring na die verhoor gestuur, maar het nie self opgedaag nie.

“Die voorsitter wat die tugverhoor sou lei, het die saak laat afstaan en gevra dat sy na die verhoor gebring word.”

Die twee mense is daar weg om haar te gaan haal, maar sy het geweier om saam met hulle na die verhoor te gaan. Teen Donderdagaand het die voorsitter van die kerkraad op Whats­App dreigemente ontvang van ’n onbekende nommer.

Dinsdag, twee dae voordat die tugverhoor gehou sou word, het Van Schalkwyk met lede van die kerk wat die voorval ondersoek het, vergader. Ná die vergadering het sy in ’n e-pos geskryf sy aanvaar dat die verhouding tussen haar en die kerk verbrokkel het.

Sy het ’n skeidingspakket versoek van drie maande se salaris, en gevra dat sy in dié tyd in die pastorie, waar Vorster se ouers glo saam met hulle woon, kan aanbly.

In ’n teenaanbod het die kerk versoek dat sy teen einde Augustus uit die pastorie trek.

Die hofsaak teen Vorster is verlede Dinsdag in die landdroshof op Pinetown uitgestel tot 30 Augustus.

Vorster het verlede week gesê hy het nooit met opset die polisie ontduik of vir hulle weggekruip nie en dat hy die afgelope vyf jaar by dieselfde adres woon en by dieselfde plek werk. Albei die adresse is volgens hom maklik te kry.

Grobbelaar sê terwyl Vorster beweer hy woon en werk reeds vyf jaar by dieselfde adres, weet niemand behalwe hy, wat Vorster is, waar dié adresse is nie.

Vorster was ’n gemeentelid toe hy Van Schalkwyk ontmoet toe sy in 2016 as hoofleraar van die NG kerk Escombe aangestel is.

Vorster het Donderdag aangebied om inligting oor die verhoor aan Rapport te gee, mits hy anoniem kon bly.

“Die aanklagte teen my is ’n klomp snert, iemand was betaal om die lasbrief uit te ruik (sic) en my te laat arresteer.”

Van Schalkwyk het vroeër gesê sy het geen kommentaar oor interne gemeentesake nie, beskou dit as vertroulik en “nie tot voordeel van die gemeente om enige uitlating te maak nie”.

Sy het die afgelope week nie op Rapport se oproepe gereageer nie.

Meer oor:  Etresia Van Schalkwyk  |  George Vorster  |  Mtubatuba  |  Bedrog  |  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.