Die polisie ondersoek ’n klag van moord en huisroof nadat ’n tuinier Dinsdagoggend op sy werkgewer se lyk in sy huis in ’n veiligheidskompleks in Garsfontein, Pretoria, afgekom het.
Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê die tuinier het omstreeks 08:30 by die huis aangekom en die oorledene “op die grond” in die huis sien lê.
Hy het ’n koeëlwond in die bolyf gehad en was reeds dood.
“Die polisie is ontbied. Dit blyk dat die man in ’n huisrooftog vermoor is want ’n televisiestel en selfone word vermis,” sê Peters.
Luidens bronne het die kompleks “baie hoë mure” met toegangsbeheer. ’n Private veiligheidsmaatskappy verskaf ook sekuriteit daar.
Dit blyk dat die oorledene, wie se naam en ouderdom nie bekend gemaak is nie, reeds in die nag aangeval en vermoor is.
“Volgens ons inligting het die tuinwerker Dinsdagoggend met sy aankoms gesien die slot van die wooneenheid se hek is oopgebreek en die agterdeur is oopgedwing,” sê Peters.
Die tuinier het na binne geloer en die huiseienaar se lyk op die vloer gesien.
Dit blyk dat daar ’n struweling was voordat die oorledene geskiet is.
* Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum van die omgewing wou nie met die media praat nie, omdat “die saak en ondersoek nog baie sensitief is”.