Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tuinier soek ná moord op bejaarde egpaar in PE
André Saaiman en sy vrou, Lidia. Foto: Facebook
’n Polisiebeampte verlaat die toneel in Scottstraat waar die lyke van die bejaarde egpaar in die studeerkamer aangetref is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die polisie in Port Elizabeth is op soek na die tuinier van die vermoorde egpaar wat Maandagoggend langs ’n bebloede byl in hul huis aangetref is.

Die lyke van André en Lidia Saaiman, vermoedelik in die 70, is Maandagoggend sowat ’n meter uitmekaar op die vloer van die studeerkamer in hul huis in Somerstrand gevind.

Albei se hande is met kabelbinders vasgebind en hulle het kopwonde gehad. ’n Byl met bloed is naby hul lyke aangetref.

Ao. Alwin Labans, polisiewoordvoerder, het Maandagmiddag gesê die egpaar se tuinier, wat in ’n woonwa op hul erf woon, is Maandag nog glad nie gesien nie.

Die woonwa se deur is oop gevind en die ligte en televisie was aan toe die polisie by hom aangeklop het, sê Labans.

Hy het bevestig die polisie is op soek na die tuinier om hom vir ondervraging in te neem.

Die egpaar is Saterdagmiddag laas lewend gesien deur een van die huurders van ’n kamer in die egpaar se Rustica Lodge, op dieselfde erf.

’n Nutsman het Maandagoggend alarm gemaak toe hy vroeg vir werk aangemeld het en niemand die deur vir hom oopgemaak het nie.

Die nutsman het die egpaar se dogter gebel, wat toe die polisie en Atlas Security gekontak het.

Volgens Monty Montgomery, bedryfshoof van Atlas, was hul beamptes eerste op die toneel en het hulle die egpaar se dogter rasend aangetref.

“Die dogter was reeds in die huis. Sy het uitgekom en gesê haar ouers is beroof, maar sy kry hulle nie,” sê Montgomery.

Kort hierna het die polisie opgedaag en saam met die dogter deur die huis beweeg.

Elke vertrek in die huis was in ’n warboel en slegs die studeerkamer se deur was gesluit.

Volgens Labans het die polisie die studeerkamerdeur afgetrap en die egpaar op die vloer aangetref.

’n Vriendin van die vermoorde egpaar se dogter het Maandagmiddag by die polisie op die toneel navraag gedoen oor wat gebeur het. Foto: Lulama Zenzile

Hul dogter was histeries en sy is vir skok in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.

Volgens Montgomery het Atlas sekuriteitskameras wat Scottstraat 24 uur monitor. Hy sê die beeldmateriaal sal aan die polisie oorhandig word om hulle met die ondersoek te help.

Intussen het ’n buurman van die egpaar, wat nie sy naam genoem wil hê nie, gesê hy woon al langer as 20 jaar langs die oorledenes. Hy kan nie glo dat hulle die slagoffers van so ’n grudaad is nie.

“Ek weet nie wat gebeur het nie, die man en sy vrou was altyd net gaaf en goed.”

Volgens die buurman het André ’n paar vragmotors besit, blykbaar as deel van ’n private vervoermaatskappy.

“Al wat ek dink, is dat dié hele storie aaklig is en dit raak nou buite beheer. Dit is die tweede bejaarde paartjie wat heeltemal weerloos was, maar steeds vermoor is,” sê die buurman.

Die vermoorde egpaar het ’n gedeelte van die huis se kamers onder die naam Rustica Lodge verhuur. Foto: Cara-Lee Dorfling
Oranje bewysstukkeëls was Maandag oral voor die vermoorde egpaar se huis in Scottstraat, Somerstrand, te sien. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die moord op die Saaiman-egpaar kom skaars twee maande ná die dubbelmoord op ’n paartjie van Schoenmakerskop.

Elaine Allwright (78) en Ken Alexander (76) is op 26 September in hul huis in Marieneweg aangeval en beroof.

Alexander is op die toneel dood nadat hy met ’n stomp voorwerp in die gesig geslaan is. Die aanvallers het sy gesig so erg vermink dat die polisie eers gedink het hy is in die gesig geskiet. ’n Lykskouing het later bepaal dat die wonde deur ’n stomp voorwerp toegedien is.

Allwright is ook met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en het die aanval aanvanklik oorleef. Sy is nege dae later dood.

Meer oor:  Pe  |  Bylmoord  |  Tuinier  |  Huisroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.