Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tuinwerker red oudpolisieman, ander van rowers

’n Oudpolisieman het groot lof vir sy tuinwerker nadat dié se wakker optrede hom, sy vrou, ’n buurman en sy huiswerker van rowers gered het.

Genl.maj. Gert de Lange van Birchleigh in Kempton Park en sy tuinwerker, Kraai Sello, het Vrydagmiddag sy motor se matte voor die huis gewas toe Sello hom wys op ’n verdagte bakkie by sy buurman oorkant die pad.

Genl.maj. Gert de Lange en sy vrou, Sonja.Foto: Verskaf

“Hy het gesê die bakkie het al twee keer by die hoekhuis in- en uitgery. Oom Billy van Jaarsveld (83) woon alleen daar saam met ’n inwonende huiswerker.”

De Lange (69) het in 2010 by die polisie afgetree. Hy was onder andere stasiebevelvoerder in die destydse Transkei, Aliwal-Noord, Tembisa, Germiston, Kempton Park en Hillbrow en is nou voorsitter van die Bond van Oudpolisiebeamptes aan die Oos-Rand.

De Lange het toe by Van Jaarsveld gaan ondersoek instel.

“Ek het by die hek gaan staan en gesien die bakkie het so half inge-reverse. ’n Man kom toe uit en sê vir my hy verf hier. Toe pak een my van die kant af en drie of vier hardloop uit. Hulle het Engels met mekaar gepraat.”

Volgens De Lange het een hom die heeltyd “bly stil” toegesnou, terwyl hy ’n 9 mm-pistoolloop in sy mond gedruk het.

“So asof ’n mens kan praat met ’n geweer in jou mond.

“Ek het darem ’n gilletjie uitgekry voordat hulle my op die grond vasgedruk het en my tuinman my gehoor het. Hy het my vrou gaan roep,” sê De Lange.

Hy sê die mans het hom in die huis vasgebind en hom aangerand.

“Ek kon darem uitkry: Waar is die ouman? Die een het vir my gesê ek moet shut up. Hy was baie aggressief. ’n Ander een het hom die heeltyd gepaai. Maak nie saak wát jou agtergrond is of hoeveel jare ondervinding jy het nie – die dag as jy in ’n rooftog beland, bly jy stil en kalm en doen wat vir jou gesê word.”

Dis toe dat hy sy vrou, Sonja, by die agterdeur hoor roep.

“Ek het vir haar geskreeu sy moet hardloop, hulle roof, maar toe gryp hulle haar klaar. Ek het gevra hulle moet haar nie so ruk en pluk nie, sy het ’n paar jaar gelede ’n rugoperasie gehad en het nog skroewe in haar rug,” sê hy.

Maar Sonja het kalm gebly. De Lange sê hy dink haar kalmte het die een rower briesend gemaak. Hulle het haar vasgebind en ’n kombers oor haar kop gegooi.

Daarna het alles byna gelyk gebeur.

Sy dapper vrou het onder die kombers die dasse waarmee sy vasgebind was, met haar tande losgemaak en toe die deur se slot van binne gesluit en die rowers uitgesluit.

Sonja het toe haar man losgemaak en hulle het Van Jaarsveld en sy huiswerker in die sitkamer gekry waar hulle vasgemaak langs mekaar gesit het.

Toe Sello sien Sonja kom ook nie terug nie, is hy na ’n ander buurman om hulp te ontbied. Die buurtwag was kort daarna op die toneel.

In daardie tyd is die rowers almal vort, maar nie sonder De Lange se trouring, nog ’n ring en sy horlosie nie.

Hulle het Van Jaarsveld se huis ook geplunder. Volgens kapt. Jethro Mtshali, polisiewoordvoerder, is hulle weg met ’n televisiestel, ’n selfoon en juweliersware.

De Lange sê hy het teen Sondag reeds sy vierde tand uitgespoeg ná die aanranding en sê hy en Sonja kry berading.

Dit gaan volgens hom nie goed met Van Jaarsveld nie.

“Sy kinders het hom kom haal, hy is deurmekaar ná die voorval. Hulle soek vir hom ’n aftreeoord waar hy versorg kan word.”

Mtshali sê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

Enigiemand met inligting wat kan help om die rowers vas te trek, kan 08600 10111 skakel.

Meer oor:  Rowers  |  Red
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.