Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tussenganger in Mihalik-moord doodgeskiet
Nkukuleko Tuntubela Foto: Verskaf

Die voormalige eienaar van ’n bekende kroeg in Guguletu, wat met die moord op adv. Pete Mihalik (50) verbind word, is Vrydag in Gugulethu geskiet.

Nkukuleko Tuntubela (45) is naby sy huis geskiet kort nadat hy by die begrafnis van Songezo Mjongile, voormalige ANC-sekretaris in die Wes-Kaap was.

Tuntubela is later in die hospitaal aan sy beserings dood.

Hy is kort ná die moord op Mihalik in Oktober 2018 genoem as die tussenganger tussen Vuyile Maliti, ’n taxibaas van Khayelitsha, en ’n Kaapstadse sakeman, wat glo die opdrag gegee het dat Mihalik vermoor moet word.

Maliti staan saam met die twee vermeende huurmoordenaars, Sizwe Biyela en Nkosinathi Khumalo, in die hooggeregshof in Kaapstad tereg op Mihalik se moord. Hulle staan ook tereg op twee aanklagte van poging tot moord, en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Sizwe Biyela, Nkosinathi Khumalo en Vuyile Maliti in die beskuldigdebank tydens 'n hofverskyning in die moordsaak van adv. Pete Mahalik. Foto: Argief

Kort nadat Mihalik vermoor is, het bronne gesê Tuntubela ken vir Maliti.

Daar is toe beweer dat hy Maliti in opdrag van ’n Kaapse sakeman genader en glo gevra hoe die dienste van ’n huurmoordenaar sonder bande met die Wes-Kaap bekom kan word.

Die voelers was glo al geruime tyd uitgesteek.

Die vermeende huurmoordenaars, Biyela en Khumalo, is albei van KwaZulu-Natal. Hulle het glo die Maandag voordat Mihalik vermoor is uit KwaZulu-Natal in Kaapstad aangekom.

Tuntubela was nog tot verlede jaar in die Allandale-gevangenis in die Paarl waar hy tien jaar tronkstraf vir gewapende roof uitgedien het.

Hy sou in November 2019 vir parool in aanmerking kom. Netwerk24 kon nie vasstel wanneer hy op parool vrygelaat is nie.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het Saterdag die skietvoorval bevestig. Sy het gesê ’n 45-jarige man is omstreeks 16:30 by NY138 in Guguletu deur onbekende aanvallers geskiet.

Toe die polisie daar aankom, is die slagoffer reeds na die hospitaal gebring waar hy aan sy beserings dood is,” het Rwexana gesê

Die voorval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Daar is ook nog geen duidelikheid oor wat nou met die moordsaak van Mihalik se drie vermeende moordenaars gaan gebeur nie. Die ondersoekbeampte, lt.kol. Charl Kinnear (52), is op Vrydag 18 September voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, doodgeskiet.

Kinnear het buite sy huis gewag dat sy seun sy motor uittrek sodat hy kon intrek toe hy in ’n sluipmoordaanval doodgeskiet is.

Een man, Zane Kilian (39), is tot dusver vir Kinnear se moord in hegtenis geneem. Hy het Vrydag in die landdroshof in Kaapstad op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en aanklagte wat verband hou met die onwettige onderskepping van kommunikasie in die landdroshof in Bishop Lavis verskyn.

Kilian ’n voormalige beroepsrugbyspeler, het glo Kinnear se selfoonseine nagespoor. Dié nasporing het in die maande voor sy dood tot die middag van sy moord gebeur. Hy is kort ná 15:00 doodgeskiet.

Die Valke het verlede week gesê die ondersoek na Kinnear se moord gaan voort en dat nóg arrestasies nie uitgesluit word nie.

Meer oor:  Mihalik  |  Huurmoord  |  Kaapstad  |  Gugulethu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.