Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Twee boere kry doodsdreigemente

Indien hulle nie gehoor gee aan die plaasbewoners se eise vir elektrisiteit- en wateraansluiting nie, sal hulle ‘uitgewis’ word, berig Hendrik Hancke.

Luke Gibbs (35) in Springvale se plaaskombuis. In die voorgrond is ’n bottel vars plaasmelk en een van sy grootouers se dagboeke. Foto’s: Deon Raath

’n Twis tussen boere, die Newcastle-munisipaliteit en plaasbewoners is op die spits gedryf toe twee boere van die Normandien-omgewing met die dood gedreig is.

Luke Gibbs (35) en sy buurman dr. Ahmed Jamooladeen (50) het elk ’n plakkaat met doodsdreigemente en eise vir elektrisiteit- en wateraansluiting daarop op hul plase gekry.

Al twee boere het plaasbewoners op hul grond wat verblyfreg eis. Dit is onder meer mense wie se voorouers hul arbeid in ruil vir verblyfreg gegee het en wie se verblyfreg kragtens wet beskerm word.

Ek het geen probleme met krag aanlê vir die gemeenskap nie. Dit moet net op die regte manier gebeur.

Gibbs, wat al die slagoffer van ’n plaasaanval was, se plakkaat lees: “Mnr. Gibbs. Om te oorleef het ons elektrisiteit en pypleidingwater nodig. Soos jy. Aan die einde van die maand as jy weier met elektrisiteit, verloor jy jou seun, vrou en besigheid. Alles deur geweld.”

Die plakkaat is vol spel- en taalfoute en onder die teks is ’n ruwe skets van ’n pistool wat ’n stokmannetjie skiet en aan die bokant kragpale met hangende drade.

Gibbs is woedend. “Hulle sê ek gaan my vrou en kind verloor. Verloor beteken weg en in hierdie konteks is dit dood,” het hy die afgelope week op sy familieplaas, Springvale, gesê.

Die doodsdreigement wat Luke Gibbs (35) verlede naweek op die Gibbs-familieplaas, Springvale, gekry het.
Die doodsdreigement wat dr. Ahmed Jamooladeen verlede Vrydag aan sy plaasheining vasgemaak gekry het.

Die doodsdreigemente voer hom terug na ’n gru-aand ses jaar gelede.

“Ek en my vrou het 00:30 een oggend in November 2014 wakker geword met ’n vuurwapen teen my kop, ’n breekyster teen my bene en ’n kapmes teen haar keel.”

Vier aanvallers het hulle vir ure aangehou en gemartel.

“Hulle het my met die breek­yster aangerand en my vrou met ’n tang gemartel.”

Die rowers is uiteindelik 03:30 weg met sowat R300, klere en linne.

Dit gaan nie oor ras nie, maar oor prosedure.

“Dit (die plakkaat) was met kabelbinders aan die draad vasgemaak. Toe ek met ’n flits daarop skyn was die vingerafdrukke sigbaar.”

Dié omgewing se plaaswag het Gibbs verlede naweek in die vroeë ure van Sondagoggend wakker gebel.

“Dit was so 00:30 en die polisie was binne 15 minute daar. Vandat die media en die polisie-grootkoppe na Normandien-polisiekantoor se werkswyse begin kyk het, het hul reaksietyd merkwaardig verbeter,” sê Gibbs.

Die geveg gaan oor die uitbreiding van die nasionale kragnetwerk na plaasbewoner-verblyf­eisers. Gibbs het so ’n gemeenskap op sy grond.

Hy sê lede van dié gemeenskap glo die boere staan tussen hulle en toegang tot elektrisiteit.

Dr. Ahmed Jamooladeen (50)

“Ek het geen probleme met krag aanlê vir die gemeenskap nie. Dit moet net op die regte manier gebeur,” sê Gibbs.

“My pa het al in 2014 ’n brief aan die munisipaliteit geskryf waarin hy sê ons is nie teen die aanlê van elektrisiteit gekant nie, maar dat die saak eers bespreek moet word om te verseker die infrastruktuur meng nie in met die langtermyn-grondgebruik en ontwikkelingsplanne met die plaas nie.”

Rapport het dié brief gesien.

“Hulle moet eers met ons praat voordat hulle strukture op ons grond oprig.”

In Augustus het Gibbs staatsvoertuie op sy grond gesien.

“Die munisipaliteit het daarna sonder enige kennisgewing buitetoilette kom oprig.”

Ook teen dié toilette se oprigting is hy nie gekant nie.

Angel Twala (41) voor haar huisie op dr. Ahmed Jamooladeen se grond.

“Hulle het die toilette by elke gemeenskap buite hul draad opgerig. Nou gaan daardie draad een of ander tyd skuif en die plase word ’n paar meter kleiner.” Jamooladeen, Gibbs se buurman, is ’n mediese dokter wat as Khoi-San identifiseer.

“Dit gaan nie oor ras nie, maar oor prosedure. Die munisipaliteit moet ons ken in die oprig van infrastruktuur op ons eiendom,” sê Jamooladeen.

Sy plakkaat lees: “Ons basiese behoeftes is elektrisiteit en ’n waterpypleiding teen die einde van hierdie week. Ons vind dit moeilik om die situasie te hanteer. As jy weier oor elektrisiteit sal jy doodgemaak word en die wit mans wat julle ’n paar weke gelede verloor het volg.”

Ook sy plakkaat bevat ’n prentjie van ’n pistool wat ’n stokmannetjie skiet en kragpale met drade wat hang.

“Dis die jonges wat deur korrupte amptenare gesterk word in hul kwaad. Hulle voel geregtig op alles en gebruik ras,” sê Jamooladeen.

“Ek as boer betaal reeds die heffings op my hele plaas. Dit sluit die gedeeltes in waar hierdie mense bly.” Jamooladeen voel hy behandel die mense op sy grond regverdig.

“Ek laat hulle toe om op die helfte van my plaas te boer. Hulle het beeste, gewasse ensovoorts,” sê Jamooladeen.

“Dis reg met my, sny my hout vir die winter, bou huisies vir jou familie, maar moenie die hout verkoop nie en moenie ’n gastehuis op my grond begin nie. En al twee die bogenoemde gebeur reeds.”

Angel Twala (41) woon op Jamooladeen se grond.

“Ons het elektrisiteit nodig. Ons het niks hier nie, maar die mense van die munisipaliteit praat nie met die boere nie,” sê Twala.

Die burgemeester van New­cas­tle, dr. Ntuthuko Mahlaba, het aan Rapport erken die bron van die ergernis is gebrekkige kommunikasie.

“Die fout lê nie by die boere óf die plaasbewoner-gemeenskap nie. Ons raadslid vir Wyk 21, Vangile Molefe, het misluk in haar kommunikasie,” sê Mahlaba.

Sy span is besig om te werk aan ’n oplossing.

“Ek het hierdie week ’n konsultasie met die boere oor die uitbreidings. Ons gaan saamwerk en die probleem vreedsaam oplos.”

Sers. Sandile Khumalo van die Normandien-polisie het die Gibbs- en Jamooladeen-voorvalle bevestig. “Twee klagte van intimidasie word ondersoek,” het Khumalo Vrydag gesê.

Meer oor:  Dreigemente  |  Grondeise  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.