Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Twee vroue aangekeer oor Estina-geld

Twee vroue, onder wie ’n voormalige senior amptenaar in die Vrystaatse regering, verskyn Vrydag in die Bloemfonteinse streekhof nadat hulle Donderdag in Bloemfontein aangekeer is in verband met korrupsie, bedrog en geldwassery waarby meer as R244 miljoen betrokke is.

Die een, 49 jaar oud, is die voormalige finansiële hoofamptenaar in die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling. Die ander vrou wat aangekeer is, is die 55-jarige alleeneienaar van Superior Quality Trading, wat ook as Rekgonne Community Projects sake doen.

Luidens ’n verklaring deur kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, is in die Estina-ondersoek onreëlmatighede in die kontantvloei van sekere rekeninge van die departement bespeur.

Van die koeie op die Estina-suiwelplaas by Vrede.Foto: CONRAD BORNMAN

Groot bedrae is na bewering in die bankrekening van die voormalige finansiële hoofamptenaar gedeponeer nadat Rekgonne Community Projects in Junie 2014 ’n ooreenkoms met die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling gesluit het om vir twee jaar projekte namens hulle te hanteer.

Luidens die verklaring is die maatskappy in dié tyd meer as R244 miljoen betaal.

Die voormalige finansiële hoof het in dié tyd glo meer as R260 000 ontvang.

Die DA in die Vrystaatse wetgewer het die inhegtenisneming verwelkom.

Die party sê in ’n verklaring dit is die punt van die korrupsie-ysberg wat die mense in die Vrystaat in armoede gelaat en dienslewering in duie laat stort het.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê die DA het sy kommer uitgespreek oor die groot bedrae geld wat sonder volhoubare of suksesvolle langtermynresultate in landbouprojekte belê is.

“Landbouprojekte in die provinsie is finansiële lekkernye vir korttermyn-agente en amptenare met min langtermyn-voordele vir begunstigdes of die Vrystaatse ekonomie.”

Volgens Jankielsohn het die departement R17 251 516,37 goedgekeur om 391 begunstigdes ingevolge ’n hulpskema te help. R94 460 096,35 is as deel van die Covid-landbou-herstelplanne vir 21 plase goedgekeur.

Korrupsie maak arm mense armer. ’n Feit wat oor en oor in die Vrystaat, wat vinnig die korrupsiehoofstad van Suid-Afrika word, bewys word.

Hy sê hoewel die geld onder die begunstigdes versprei word, is daar volgens berigte slegs ’n paar varke en ander werkgeleenthede, terwyl baie ander verdienstelike mense in die Vrystaat behoeftig is.

“Die verdeling van die geld bly oop vir politiek en ander om te misbruik en is ’n bron vir verdere ondersoek deur die DA.

“Ons sal aandring op antwoorde van die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaatse wetgewer oor die betaling van R244 miljoen aan Superior Quality Trading aangesien ons veg vir die regte van die begunstigdes van die Vrede-suiwelprojek wat met leë beloftes van ’n beter lewe beroof is.

“Korrupsie maak arm mense armer. ’n Feit wat oor en oor in die Vrystaat, wat vinnig die korrupsiehoofstad van Suid-Afrika word, bewys word.”

Jankielsohn sê die provinsiale regering raak sinoniem met die uitbuiting van belastingbetalers.

  • Die aanklagte teen die 11 beskuldigdes in die staat se ondersoek na die Estina-suiwelprojek van R250 miljoen by Vrede is vroeër in die Bloemfonteinse streekhof voorlopig laat vaar.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.