Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Uber-bestuurder se ‘kliënte’ probeer sy motor verkoop

Twee “kliënte” van ’n Uber-bestuurder van Port Elizabeth het hom Sondagoggend beroof, ontvoer en etlike ure in die bagasieruim aangehou terwyl hulle sy motor glo probeer verkoop het.

Die toneel in Fitchardtweg in Helenvale, Port Elizabeth, waar die polisie op die Uber-bestuurder agterin sy blou Suzuki Swift afgekom het. Foto: Verskaf

Die 23-jarige Uber-bestuur het Sondag omstreeks 05:15 op ’n rit-versoek van twee mans in Humerail, Port Elizabeth, gereageer. Hulle het gevra dat hy hulle na Colchester, sowat 40 km buite Port Elizabeth, neem.

Met hul aankoms in Colchester het hulle glo die bestuurder aanwysings gegee na ’n grondpad, waarna hy opdrag gegee is om stil te hou.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê volgens hul inligting het een van die mans hom met ’n mes gedreig.

Die bestuurder is van sy persoonlike besittings beroof voordat hy agter by sy Suzuki Swift se bagasieruim ingeboender is.

Die mans het met die bestuurder agterin na Port Elizabeth teruggery en glo die motor in Gelvandale, een van die stad se bendegeteisterde woonbuurte, probeer verkoop.

Janse van Rensburg sê die polisie het omstreeks 08:30 inligting uit die gemeenskap ontvang oor verdagte mense wat in ’n blou Suzuki-motor in Fitchardtweg in Helenvale, ’n woonbuurt langs Gelvandale, ry.

Lede van die polisie se honde- en blitspatrollie-eenheid het gereageer en die motor voorgekeer.

Die polisie het die voertuig deursoek en die Uber-bestuurder agterin gekry en vrygelaat. Hy is ongedeerd.

Die twee mans, wat onderskeidelik 23 en 35 jaar oud is, is in hegtenis geneem en sal die komende week op aanklagte van ontvoering en motorkaping in die landdroshof in Motherwell verskyn.

Genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, het die onderskeie polisie-eenhede vir hul vinnige optrede geloof en gesê deur hul professionele optrede is enige verdere aanval op die slagoffer afgeweer.

Meer oor:  Uber  |  Kapt. Sandra Janse Van Rensburg  |  Port Elizabeth  |  Verkoop  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.