Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Uber maan teen ritte sonder app ná aanval

Uber het Sondag gebruikers gewaarsku om ritte slegs deur hul amptelike app te reël en nie private reëlings te tref nie, sodat hulle deur die maatskappy se veiligheidsmaatreëls beskerm kan word.

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Dit volg nadat ’n egpaar Sondagoggend by die O.R. Tambo-lughawe self ’n rit gereël het by ’n Uber-bestuurder wat nie in daardie stadium aanlyn was nie, en met hul aankoms by hul bestemming in Morningside geskiet en beroof is.

Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die egpaar, wat op ’n vlug vanaf die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) was, is vermoedelik deur drie gewapende rowers in ’n wit BMW vanaf die lughawe gevolg.

“Die gewapende rowers het die man en vrou omstreeks 06:00, toe hulle in West Road afgelaai is, genader. Albei passasiers is een keer in hul bolywe geskiet en van hul bagasie, juwele en ’n onbekende hoeveelheid geld beroof.”

Volgens Masondo is die slagoffers in ’n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem. Die bestuurder van die voertuig is nie in die voorval beseer nie.

“Uber kan bevestig die voorval het plaasgevind terwyl die bestuurder nie aanlyn was nie. Die rit is nie deur die Uber-app bespreek nie, maar was ’n private Uber-reis wat tussen die bestuurder en sy passasiers gereël is,” het ’n woordvoerder van die maatskappy Sondagaand gesê.

Uber het mense gemaan om altyd besprekings deur die app te doen, omdat dit hulle toegang tot belangrike veiligheidsmeganismes soos Globale Posisioneringstelsels (GPS) en gesigherkenningsagteware gee om die bestuurder te identifiseer.

Uber kan bevestig die voorval het plaasgevind terwyl die bestuurder nie aanlyn was nie. Die rit is nie deur die Uber-app bespreek nie, maar was ’n private Uber-reis wat tussen die bestuurder en sy passasiers gereël is.
Uber

Vriende en familielede van passasiers wat die app gebruik, kan ook hul rit in werklike tyd volg. Verder word gebruikers van die bestuurder se naam en foto voorsien en ingelig oor die model, registrasienommer en selfs die kleur van sy of haar voertuig en ander belangrike besonderhede – sodat hulle altyd weet saam met wie hulle in die voertuig klim.

Uber is ook in ’n vennootskap met verskeie veiligheidsmaatskappye, wat hulle in staat stel om veiligheidswagte en die nooddienste vinniger op die toneel te kry in die geval van nood.

Die maatskappy het gebruikers aangeraai om altyd die Uber-app se veiligheidsmaatreëls vir hul eie veiligheid te gebruik, seker te maak hulle weet wie hul bestuurder is en nooit mense wat hulle op straat ritte aanbied te vertrou nie.

Gebruikers kan ook die app se helpfunksie gebruik om enige probleme aan te meld en onmiddellik terugvoering te kry.

Volgens Uber is daar geen rede om vir gebruikers om hul persoonlike besonderhede of kontaknommers aan die bestuurder te gee nie en moet mense hul intuïsie gebruik en dadelik die nooddienste kontak indien hulle enigsins onveilig voel.

Meer oor:  O.R. Tambo-Lughawe  |  App  |  Aanval  |  Uber  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.