Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Uber-man nog vry wat glo passasier omry, wegry

Tien weke nadat ’n man van Centurion kopbeserings opgedoen het toe hy glo deur ’n Uber-bestuurder raakgery is, is die bestuurder nog op vrye voet.

Beyers Serfontein kry tans rehabilitasie. Hier is hy tydens ’n onlangse besoek aan ’n oogchirurg.

Uber is ’n gewilde wêreldwye vervoerdiens waarmee jy ’n rit met jou foon kan bestel.

Beyers Serfontein (45), wat gekwalifiseer is as meganiese ingenieur, is in die vroeë oggendure van 10 Maart raakgery deur die Uber-bestuurder wat hom en sy vriendin, Linda Bennett (37), huis toe geneem het in Centurion.

Rapport het berig dat Serfontein die bestuurder gevra het om hulle af te laai omdat hy onverskillig bestuur het. Die bestuurder het hulle laat uitklim en weggejaag voor Serfontein en Bennett hul koelsak uit die bagasiebak kon haal.

Serfontein het agterna gehardloop, maar toe opgegee en terug geloop na waar Bennett gewag het. Dis toe dat sy sien hoe die bestuurder ’n U-draai maak en op Serfontein afpyl. Hy het hom glo omgery en weggejaag.

Serfontein se broer, Johann (39), het vandeesweek gesê: “My broer was amper dood. Sy redding was dat daar toevallig ’n ambulans verbygery het wat hom hospitaal toe gevat het. By die hospitaal (Netcare Unitas) het die dokters min hoop gehad en ons het hom ’n paar keer amper verloor.” Serfontein het onder meer ernstige kopbeserings en skedelfrakture opgedoen.

“Hy kry tans rehabilitasie en ons hoop dat hy oor twee weke sal kan huis toe gaan. Volgens die neuroloog wat hom behandel in samewerking met ander spesialiste soos ’n arbeidsterapeut en fisioterapeut vat dit tyd om te herstel ná ’n breinbesering,” sê Johann.

Dit gaan nou beter met die pasiënt, maar die polisie se optrede grief die familie. “Tien weke later is niemand nog in hegtenis geneem nie. Beyers kan niks onthou van daardie aand nie en dit het ons al vier weke terug vir hulle gesê. Wat as hy dood was?” vra hy.

Volgens kapt. Kay Makhubela, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, is hulle steeds besig met die ondersoek. Hy kan nie nou kommentaar lewer nie.

Volgens ’n bron sloer die saak omdat die polisie eers toestemming moet kry van die nasionale vervolgingsgesag dat die ondersoek kan voortgaan sonder Serfontein se getuienis.

Uber Suid-Afrika het bevestig dat die betrokke bestuurder steeds geskors is en nie toegang het tot die stelsel nie terwyl hulle wag dat die ondersoek afgehandel word. Verder sê hulle dat hulle selfoondata wat presies wys waar die bestuurder daardie nag gery het, en wie hy opgelaai het, aan die polisie gegee het. Johann betwis dit.

“Hulle het die familie per e-pos gekontak met stappe wat ons moet doen om ’n eis in te stel. Volgens dié inligting is die maksimum bedrag wat ons nou kan eis sowat R20 000. Ek het toe gevra of ons die nasporingsdata kan kry en hulle het gesê nee. Dit sal aan die polisie verskaf word indien daarvoor gevra word. Dis die laaste wat ons van Uber gehoor het.

“Die polisie sê hulle het die data gekry, maar hoe weet ons dat al die inligting aan die polisie verskaf is? As dit so is, kan dit mos die feite in die saak bewys en help dat die ondersoek nie so sloer nie,” sê Johann. Hulle oorweeg ’n siviele eis teen Uber.

Meer oor:  Uber  |  Tref-En-Trap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.