Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Uiteindelik: Weermag in Kaapse Vlakte ontplooi

Swaar gewapende polisiebeamptes en soldate gaan vir die volgende drie maande as deel van ’n grootskaalse ingrypingsoperasie – kompleet met swaar verdedigingsmasjinerie en helikopters – alle bende- en moordgeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte “afseël” om ’n einde aan geweldsmisdade daar te bring.

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het dié drastiese en buitengewone ingryping Donderdagaand by die parlement aangekondig nadat Cele sy begrotingsrede gelewer het.

Volgens Cele het hy en Nosiviwe Mapisa-Nqakula in hul hoedanigheid as medevoorsitters van die ministers in die veiligheidsgroepering ná die 13 moorde in Philippi die afgelope naweek besluit dat iets gedoen moet word om die moorde op die Kaapse Vlakte te stop.

Dit nadat hulle die afgelope week ook die families van die slagoffers in Philippi en Samora Machel besoek het.

Hulle het daarna pres. Cyril Ramaphosa se toestemming vir die spesiale ingryping gevra, wat goedgekeur is.

Volgens Cele is alle belanghebbendes in die Wes-Kaap ook eers daaroor gekonsulteer.

“Ons gaan daarom alle bende- en moordgeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte terselfdertyd afseël”.

Ons gaan daarom alle bende- en moordgeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte terselfdertyd afseël.

Op ’n vraag oor waarom daar nie op die DA se vroeëre versoeke vir die ontplooiing van die weermag gereageer is nie, het Cele gesê hulle het na gemeenskapspolisiëringsforums op die Kaapse Vlakte se versoeke daarvoor geluister en “nie na politici” nie.

Die eerste ontplooiing van net polisiebeamptes het volgens Cele reeds vanaf 02:00 Donderoggend in die Steenberg-omgewing begin.

“Vrydagoggend sal die nasionale kommissaris nog ’n groot ontplooiing van polisiebeamptes toespreek. Soldate van die weermag sal dan binne 12 uur by die polisie aansluit,” sê hy.

“Die betrokke gebiede sal kompleet met swaar masjinerie en helikopters afgeseël word. Ons sal in elke gebied van huis tot huis gaan op soek na misdadigers, dwelmhandelaars, voortvlugtiges en onwettige vuurwapens. Ons soek die dwelmbase, nie die verkopers nie.”

Hy glo dit is ook om sigbare polisiëring in die gebiede te verhoog soos Ramaphosa in sy staatsrede belowe het.

Cele versoek gemeenskappe om hul samewerking aan die operasie te gee.

“Ons wil hiermee seker maak dat ons mense nie verder doodgaan nie. Ons het geluister na die gemeenskappe.”

Hy sê verder dat die intense ontplooiing van die polisie en soldate voorlopig vir drie maande geskeduleer is.

“Ons sal dit verleng indien nodig. Ons hoop egter om die situasie teen daardie tyd te normaliseer. Ons het geen ander keuse nie. Die feit dat jong swart en bruin mense so vermoor word, is ’n baie ernstige kwessie. Dit moet end kry.”

Cele sê ook hy wil saam met sy DA-eweknieë in die provinsie werk om die situasie om te keer.

“Ons hoef nie lief te wees vir mekaar nie, maar ons moet ter wille van ons mense saamwerk.”

Volgens hom moet die DA-regering in die Wes-Kaap ook help om gebiede soos byvoorbeeld Philippi meer leefbaar vir mense te maak omdat hulle tans “daar soos varke leef”.

Hy sê daar is geen ligte of veiligheidskameras in die gebied nie en dit is waarom misdaad so gedy daar.

Volgens Sitole sal die ontplooiing ’n geïntegreerde, multidissiplinêre hoëdigtheidsingryping wees.

Die polisie, weermag en alle ander veiligheidsmagte sal saamspan.

“Die polisie, weermag en alle ander veiligheidsmagte sal saamspan. Dit is nie die eerste keer dat so iets gebeur nie – gedurende die verkiesing werk ons ook saam met die weermag om die land te stabiliseer,” sê Sitole.

“Die weermag het ook die kapasiteit om die polisie in sekere situasies te ondersteun soos in die gevalle waar polisiebeamptes op misdaadtonele aangeval word. Van die vuurwapens wat misdadigers gebruik is ook militêr van aard.”

Op ’n vraag oor of soldate geskik is om misdaad te help beveg, sê hy dat dit ’n polisiegeleide operasie is waar die weermag die nodige ondersteuning sal bied.

Volgens Sitole het hy daarby ook die opdrag gegee vir die maksimale ontplooiing van alle polisiereserviste om ná afloop van die operasie in die gebiede te kan help.

Cele sê hy is vol hoop dat die operasie die situasie op die Kaapse Vlakte kan omkeer.

“As ek nie hoop het nie, moet ek maar huis toe gaan.”

Meer oor:  Bheki Cele  |  Alan Winde  |  Kaapse Vlakte  |  Bendegeteisterde Gebiede  |  Weermag  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.