Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Upington-moord: ‘My ouma het alles vir ander gedoen’

“My ouma was baie jare ’n verpleegster en het niks vir haarself gedoen nie. Alles wat sy gedoen het, was vir ander mense.”

Dis hoe Cobus Kruger van Kakamas sy geliefde ouma Hannetjie Kruger (80) sal onthou. Kruger is Maandag wreed in Upington in haar huis vermoor.

Cobus sê sy sou vir enigiemand kos of geld gegee het as hulle gevra het.

“Haar moord is totaal onnodig en ek hoop en bid die regstelsel sal ons nie in die steek laat nie.”

Hannetjie Kruger (80) Foto: Facebook

Sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

“Die ondersoek is in ’n sensitiewe stadium en die speurders werk onverpoos om die oortreder(s) vas te trek. Hulle doen alles in hul vermoë.”

Die polisie het die inwoners van Upington gevra om hulle by te staan en met inligting na vore te kom.

Kruger is Maandag vermoedelik tussen 12:00 en 13:00 in haar huis in Middelpos aangeval en vermoor.

Sy het wonde aan haar gesig en nek gehad.

Die polisie het onmiddellik ’n groot soektog na die moordenaars begin.

Wynand Boshoff, provinsiale leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, sê die moord op Kruger benadruk gemeenskappe se verantwoordelikheid om na hul eie veiligheid om te sien.

Boshoff sê Kruger en haar man, Hendrik, woon op ’n plaas buite die dorp.

“Die egpaar het hul kinders uitgehelp omdat hulle met een van die kleinkinders vir mediese behandeling na Bloemfontein moes gaan. Hulle het in die dorp kom woon om die ander kinders te versorg en rond te karwei. Dit is juis toe mev. Kruger nie by die skool uitgekom het nie dat alarm gemaak is,” sê Boshoff.

Marika Nel, Kruger se dogter, het gaan ondersoek instel en op haar lyk afgekom.

Haar moord is totaal onnodig en ek hoop en bid die regstelsel sal ons nie in die steek laat nie.

Intussen het vroue in die woonbuurt hul kommer oor die voortslepende misdaad uitgespreek nadat daar etlike ure ná die moord op Kruger by die huis van haar buurvrou, Ansie Duvenhage (56), ook ’n ouma, ingebreek is.

Haar selfoon is langs haar bed gesteel terwyl sy geslaap het. Haar minderjarige kleindogter se selfoon en R600 is ook uit haar handsak gesteel.

Die inbreker het deur die motorhuis toegang tot die huis verkry.

Boshoff sê dit is noodsaaklik om altyd paraat te wees en eers goed te besin oor wie toegang tot die eiendom gegee word.

“Die VF Plus wil gemeenskappe daaraan herinner dat alle besoekers aan hul huise en erwe sekere inligting kan bekom. Iemand wat misdaad beplan, kan maklik by ’n tuindiensonderneming aansluit, of as tydelike werker ’n huis en erf binnedring.”

  • Enigiemand met inligting of wat iets ongewoon opgemerk het, word versoek om die speurder, ao. Steven Roos, by 082 693 7130 te bel.
Meer oor:  Cobus Kruger  |  Hannetjie Kruger  |  Upington  |  Aangeval  |  Huis  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.