Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ure lange operasie aan gesig wag vir man ná aanval

Dokters gaan Woensdag begin om die skade aan Bennie Joubert (60) se gesig te probeer herstel nadat byna elke gesigbeen tydens ’n aanval gebreek is.

Bennie en Amanda Joubert tydens Bennie se 60ste verjaardagviering verlede jaar.

Dié inwoner van Thatchfield, Centurion, het ernstige gesig- en kopbeserings, sowel as kap-/snymerke op sy arms en bene, opgedoen toe twee mans hom en sy vrou, Amanda, Saterdagoggend net ná 01:00 oorval het.

Hy is herhaaldelik met vermoedelik ’n graaf en/of ’n tipe kapmes geslaan.

Joubert het vertel Bennie het verbete terugbaklei en selfs by tye sy lyf tussen die aanvallers en haar gehou.

Die aanvallers het gevlug nadat sy ’n venster stormgeloop en gebreek het om alarm te maak.

Sy het verskeie snye aan haar een arm, hand en voetsole opgedoen.

’n Vriendin sit die afgelope week salf aan Amanda Joubert se stukkende arms nadat sy die oggend verskeie steke moes kry. Foto: Hanti Otto

Bennie is in ’n kritieke toestand hospitaal toe geneem.

Hy is sedertdien onder verdowing en aan ’n ventilator gekoppel.

Joubert sê haar man se wonde is Maandag in ’n teater skoongemaak.

“Woensdag begin hulle met ’n gesigsrekonstruksie. Die dokter het verduidelik hulle gaan plate vanaf Bennie se bolip tot bo-op sy kop insit. Daar mag dalk verdere operasies wees, afhangende van wat hulle nog fout kry as hulle alles oopmaak.

“Hulle skat dat die operasie so ses ure sal duur,” het sy gesê.

Die egpaar is Saterdagoggend saam per ambulans na die hospitaal geneem, en sy kon hom net nog sien voordat sy ontslaan is en hy na die trauma-hoësorgeenheid van ’n spesialishospitaal in Johannesburg oorgeplaas is.

Saterdagaand, nadat misdaadtoneelskoonmakers stukke nat-bebloede mat uitgesny het, die bloedspatsels wat tot teen die plafon gespat het, afgewas het en die egpaar se matras verwyder het, is Joubert toegelaat om haar man vlugtig te sien.

“Dit was twee minute, en ek dink dit was ’n gebaar van die hospitaalpersoneel om my en hom, hoewel hy onder verdowing is, gerus te stel,” vertel Joubert.

Die kombuisdeur waar die aanvallers ingebreek het. Foto: Hanti Otto
Bennie Joubert is onder meer hier aangerand, terwyl hy sy lyf oor sy vrou, wat in ’n stadium op die vloer onder hom gelê het, gebuig het. Foto: Hanti Otto

Hy was gekoppel aan ’n magdom masjiene en pype.

Die verskeie sny- en kapwonde aan sy geswelde gesig en lyf was teen daardie tyd toegewerk.

Joubert het haar twee minute vergunning gebruik om te sê:

“Jy was ’n skild. Ek is oukei. Jy het my lewe gered en ek is baie lief vir jou. Hou jy net asseblief aan fight?”

Sy het later verduidelik: “Ek het hom bedank dat hy bereid was om sy lewe vir my te gee. Ek het hom vertel mense het die bloed in die huis kom skoonmaak en dat die venster en deur reeds reggemaak is.

“Ek het hom verseker ek is oukei, hy het my beskerm. Toe . . . toe vra ek hom om asseblief nie op te gee nie, om aan te hou baklei . . .”

Bennie se oë was dik toegeswel, tog het die trane geloop.

Sondagaand is die egpaar se een dogter toegelaat om vinnig by haar pa in te loer. Sy het ’n stemboodskap van haar suster in Nieu-Seeland vir Bennie gespeel.

Weer het hy reaksie getoon.

Die aanvallers het die kombuisdeur, vermoedelik met die einste graaf wat later in die hoofslaapkamer gekry is, oopgebreek. Foto: Hanti Otto

“Kyk, as daar iets is wat Bennie hier (lewend) sal hou, is dit sy twee dogters,” het Joubert later gesê.

Dit blyk dat aanvallers Saterdagoggend toegang tot die huis in ’n veiligheidskompleks gekry het deur die kombuisdeur oop te breek.

Joubert sê Bennie se beursie en kontant was in die voorste oopplangedeelte van die kombuis en woonvertrek. Tog het die aanvallers eerder gang-af gedraai, reguit na die hoofslaapkamer in die agterste deel van die huis.

Sy het wakker geskrik van Bennie wat skree toe hy geslaan word.

Noodwerkers van Netcare 911 kon uiteindelik net voor 03:00 die kritiek beseerde Bennie Joubert so stabiliseer dat hulle hom hospitaal toe kon neem. Foto: Hanti Otto

Joubert het vertel hoe Bennie in ’n stadium tydens die geveg met die aanvallers oor haar geval het, en so gebly het terwyl die houe op sy kop reën.

Een van die aanvallers het haar onder Bennie uitgetrek, maar toe sy besef hy rig vermoedelik haar man se gaspistool op haar, dit weggeklap en verby die booswigte gehardloop om uit die huis te kom, voordat sy besef het die voordeur is gesluit en sy sal moet terug na die einste slaapkamer om by die groot venster sonder diefwering uit te kom.

Ná die tyd wou sy weet: “Die TV, my handsak, Bennie se foon was ook voor in die sitkamer. Hul kon dit gevat en verdwyn het. Hoekom was dit nodig om hom so aan te hou en aan te hou slaan?”

Die aanvallers is vort met net haar trouring.

In reaksie op mense se lof, sê Joubert sy was nie “dapper” nie.

Die venster wat Amanda Joubert met al haar krag bestorm het om hulp te kry, terwyl haar man oor en oor met ’n graaf en/of kapmes aangeval is. Foto: Hanti Otto

“Ek het nie in daardie stadium meer vrees ervaar nie. Ek het net besluit hulle gaan nié my man doodmaak nie,” verduidelik sy.


'Santie hulle vermoor my man!'

Amanda Joubert se buurvrou, Santie Barnard, sê sy het daardie oggend net ná 01:00 helder wakker geskrik.

“So asof iets my wakker gemaak het. Ek glo in my hart dit was die Here.

“Dit het geklink of daar iewers gesinsgeweld was, ’n vaagweg bakleiery, maar ek kon nie mooi bepaal waar nie.

“Ek het vir Vuyo (Jajula), my buurman aan die ander kant, gebel.

“Hy het byna onmiddellik geantwoord met: ‘What’s wrong!’ Hy het ook geluide gehoor.”

Toe hoor Barnard glas breek en Joubert wat skree: “Santie hulle vermoor my man!”

Barnard het uitgehardloop en vir Jajula gekry waar hy al skreeuend na Joubert se huis hardloop.

Teen dié tyd het Joubert haar motorhuisdeur van binne oopgemaak gekry.

“Haar arm was aan flarde. Ek het nader gehardloop en net my arms om haar gegooi,” vertel die buurvrou.

Jajula sê hy het ná sy gesprek met Barnard op die kompleks se WhatsApp-groep gevra wat gaan aan.

Om 01:12 het hy gedink hy hoor gille.

“Toe hoor ek iets stamp-slaan. En glas breek. Ek het myself bewapen en uitgegaan.

“Amanda het uitgehardloop met ‘hulle vermoor vir Bennie!’

“Santie het geskree ek moet (in die huis) ingaan. Ek het koue rillings gekry: Wat as ek Mr. B dood vind? Is die aanvallers nog binne?

“Ek het almal in die kompleks begin wakker skree met ‘guys, come and help’, terwyl ek na die huis hardloop, sodat daar baie van ons kon wees,” sê hy.

Hy is eerste die huis in waar hy die bebloede Bennie gevind het.

Op Jajula se hakke was Beverley Jacka. As opgeleide paramedikus het sy die beseerde man een kyk gegee, uitgehardloop en teruggekeer met haar noodhulptas.

Sy het vir Bennie teen haar bors gestut, haar hande om sy talle kopwonde gevou en bloed probeer keer waar sy kan.

“Ek het hom bly vra oor sy naam, sy kinders en kleinkinders om hom by sy positiewe te hou totdat Netcare 911 se paramedici oorgeneem het,” het sy later vertel.

Meer oor:  Bennie Joubert  |  Centurion  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.