Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Valke bekyk ‘koshuis’ van Xander se suster

’n Huis in Sunnyside, Pretoria, waar ’n klomp junior Blou Bul-spelers bly, vorm die kern van die Valke se ondersoek na Xander Janse van Rensburg, die Blou Bulle se voormalige hoëprestasiebestuurder.

Die huis in Sunnyside wat die Blou Bulle teen R1 miljoen per jaar huur by ’n trust van Xander Janse van Rensburg se suster. Foto: Deon Raath

Dié huis, wat deur ’n trust van Janse van Rensburg se suster in 2018 gekoop is, is kort daarna deur die Blou Bulle Maatskappy (BBM) gehuur.

Rapport verneem Janse van Rensburg het die kontrak met sy suster se trust, die Scheepers Kloppers Familietrust, vir bykans R1 miljoen per jaar onderteken. Die huurkontrak was vir vier jaar en glo met baie ongunstige bepalings en voorwaardes vir die BBM.

Die eiendom is gebruik as ’n soort “koshuis” vir jong spelers wat Janse van Rensburg gaan uitsoek het. Volgens ’n ingeligte by die BBM bly tussen 18 en 20 spelers tans in die huis, wat stapafstand van Loftus Versfeld is. Die huis is omskep om meer kamers te hê wat die spelers deel.

Die geld is glo nie aan die BBM oorbetaal nie.

Met Rapport se besoek was ’n veiligheidswag in ’n spesiale houthut besig om wag te hou.

Dokumente by die aktekantoor wys die trust het die huis in Februarie verlede jaar vir R2,35 miljoen gekoop. Standard Bank het ’n 100%-verband vir die eiendom toegestaan.

Die Tshwane-metro waardeer die eiendom van 1 090 m² in Villastraat op R1,7 miljoen as ’n residensiële woning.

Die huurgeld van meer as R80 000 per maand behels ’n jaarlikse opbrengs van tot 42% op die koopsom.

Xander Janse van Rensburg se suster Nerine Scheepers.

Die familietrust het drie trustees: Janse van Rensburg se suster Nerine Scheepers, Marieth Kloppers en ’n prokureur wat die registrasie van die trust in 2017 behartig het.

Scheepers en Kloppers is kollegas as eiendomsagente by die Re/Max-eiendomsagentskap in Constantiapark, Pretoria.

Die BBM het Janse van Rensburg by die polisie gaan verkla en ook ’n klagte by die Raad op Eiendomsagente (EAAB) teen Scheepers en Kloppers ingedien. Bongani Mlangeni, ’n woordvoerder van die EAAB, het bevestig dat hulle ’n klagte teen Kloppers en die betrokke Re/Max-agentskap ontvang het. “Die klagte is op 13 Mei 2019 ontvang. In die lig van die ernstigheid van die klagte en/of bewerings, word dit tans ondersoek.”

Mlangeni wou nie sê wat die presiese aard van die klagte is nie.

Scheepers en Kloppers het nie op Rapport se versoeke om kommentaar gereageer nie. Kloppers het vir skriftelike vrae gevra, maar dit toe nie beantwoord nie.

Rapport verneem die BBM ondersoek ook of Janse van Rensburg namens die Blou Bulle ingestem het om verbeterings aan te bring aan die eiendom wat nie aan hulle behoort nie.

Die huis vorm ook die kern van nóg ’n ondersoek. Van Rensburg het glo daarop aangedring dat elke inwoner van dié huis en twee ander huise van die BBM R5 000 kontant per jaar betaal as ’n “breekskade-deposito” wat nie terugbetaalbaar is nie.

Rapport verstaan hy kon tussen R300 000 en R400 000 só insamel, maar die geld is glo nooit aan die BBM oorbetaal nie.

Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die BBM, het gesê hulle gaan nie kommentaar lewer terwyl die saak ondersoek word nie.

Rapport verneem ondersoekbeamptes van die Valke het die afgelope week Loftus Versfeld besoek om dokumente te kry en met die BBM-bestuur te konsulteer.

Janse van Rensburg het intussen vir hom twee prokureurs aangestel: een wat in siviele sake spesialiseer en die ander wat in strafreg spesialiseer.

Oelof de Meyer, sy een prokureur, sê hy is nog nie deur die Valke gekontak nie.

Janse van Rensburg self het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.