Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Valke bieg: Ons hét boere se dossier oor diewe gekry

Twee weke nadat die Valke gesê het hulle dra geen kennis van ’n “dossier” oor die polisie se beweerde betrokkenheid by veediefstalsindikate in Senekal en Paul Roux nie, het die Valke erken ’n luitenant-kolonel in hul diens sit al sedert November met die inligting.

Brendin Horner

Rapport het twee weke gelede berig dat ’n gedetailleerde verslag “maande gelede” aan ’n luitenant-kolonel in die Valke oorhandig is waarin die vermeende lede van plaaslike veediefstalsindikate geïdentifiseer is.

Herkie Viljoen, veiligheidsvoorsitter van die Bethlehem-distrikslandbouvereniging, het met die verdagtes in die Brendin Horner-moordsaak se eerste hofverskyning op 6 Oktober in Senekal die polisie gedaag om te sê wat hy gedoen het met dié verslag “oor Paul Roux se korrupte polisie” wat hy sê hy in Januarie reeds aan hulle gegee het.

“Wat het hulle met daai verslag gemaak? As hulle hul werk gedoen het . . . as hulle opgetree het met dit wat ons vir hulle swart op wit bewys het, was daai bende . . . wat ons al vir twee jaar terroriseer, dan het daai bende nie Vrydagoggend gedoen wat hulle gedoen het nie.”

Viljoen het beweer hy het die verslag in twee dele aan ’n luitenant-kolonel van die Valke in Pretoria gestuur – die eerste in Desember en ’n opvolgverslag met meer besonderhede in Januarie. Hy het gereeld opgevolg, “maar daar was altyd verskonings”.

Toe Rapport op Saterdag 10 Oktober vir brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, gevra het oor die verslag, het hy gesê hy dra nie kennis daarvan nie.

Gabriel Crouse van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het op grond van Rapport se berig weer vir die Valke gevra of hulle geweet het van Viljoen se dossier.

Die afgelope Maandag het kol. Katlego Mogale, hoof van korporatiewe kommunikasie by die Valke, in ’n e-pos aan Crouse bevestig “dat ’n verslag oorhandig is deur ’n klaer aan ’n luitenant-kolonel wat die klaer toevallig tydens ’n ander ondersoek in die Vrystaat ontmoet het”.

Die Vrystaatse Valke het nou die verslag ontvang. Die bestuur ondersoek hoe die inligting hanteer is.

“Die genoemde verslag is op 23 November 2019 aan die beampte gestuur, en is ook gestuur na ’n hele aantal ander polisiebeamptes in die (polisie-) diens. Die Vrystaatse Valke het nou die verslag ontvang en werk met die inligting daarin.

Die bestuur van die Valke ondersoek hoe die inligting hanteer is.”

Bheki Cele, minister van polisie, het verlede week aan Hanlie Retief gesê hy het ook die verslag ontvang.

Sekola Matlaletsa, een van Horner se vermeende moordenaars, is Donderdag op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die ander een, Sekwetje Mahlamba, se aansoek om borgtog is deur landdros Deon van Rooyen van die hand gewys omdat hy meen Mahlamba kan inmeng by die polisieondersoek.

Die verslag bevat inligting oor onder meer:

¦ Gesteelde vee wat gevind is op ’n plaas wat behoort aan ’n polisiegeneraal;

¦ ’n Stasiebevelvoerder in een Oos-Vrystaatse dorp wat telkens onder verdagte omstandighede gesien is naby plase waar vee pas gesteel is. Die verslag bevat besonderhede van ses diefstalsake – kompleet met saaknommers – waarmee die betrokke stasiebevelvoerder verbind word. Verskeie ander polisiemanne wat glo betrokke was, word ook geïdentifiseer;

¦ Die naam en ID-nommer van verskeie verdagtes, asook die registrasienommers van voertuie.

Die verslag bevat ook die naam van minstens een polisieman en ’n vermeende veedief wat waarskynlik onder druk sal swig en bereid sal wees om te praat as die Valke hulle nader.

Luidens die verslag is daar tussen April en Augustus 2018 845 stuks vee in die gebied (wat die dorpe Clarens, Bethlehem, Fouriesburg, Paul Roux en Kestell insluit) gesteel waarvan 203 teruggekry is.

Geen inhegtenisneming is in 99 sake gemaak nie.

Tussen April en Augustus verlede jaar het die diefstalle amper verdubbel: 1 538 stuks vee is gesteel waarvan net 186 teruggekry is. Slegs een persoon is aangekeer in 137 sake.

Sommige boere het al tot 200 skape in ’n enkele nag verloor.

Meer oor:  Herkie Viljoen  |  Brendin Horner  |  Plaasmoord  |  Veediefstal  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.