Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Valke ‘gaan nog verdagtes in VS gryp’
Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, en Olly Mlamleli, gewese uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, Saterdag saam in Brandfort waar hulle die 84ste verjaardagviering van die ontslape Winnie Madikizela-Mandela gaan bygewoon het. Foto: Marietjie Gericke

Nog inhegtenisnemings deur die Valke in verband met verskeie beweerde korrupte projekte in die Vrystaat word verwag.

Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, sê soos wat ondersoeke vorder en daar genoeg waterdigte getuienis versamel word, kan daar meer inhegtenisnemings kom.

“Ons is besig met verskeie sake in die Vrystaat waarvan die waarde beslis meer as ’n R1 miljard kan wees. Die inhegtenisneming van sewe mense in verband met die asbesdaktel-projek was maar net die eerste been,” sê hy.

Intussen sê dr. Roy Jankielsohn, DA-LPW en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, dié party staan voor in die gevegslinie teen korrupsie in die provinsie.

Hy sê die Vrystaat ervaar die nalatenskap van Ace Magashule, voormalige premier, op alle vlakke in die Vrystaat, nie net in die regeringsektor nie, maar ook in die breë samelewing.

“Die mees tragiese nalatenskap van Magashule se bewind word nou op ekonomiese vlak ervaar met die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika wat aandui dat net 638 000 van die 1,9 miljoen inwoners in die provinsie wat van ’n werkende ouderdom is, nou ekonomies aktief is.”

Jankielsohn sê van die bekendste Vrystaatse regeringsprojekte wat nou ondersoek word, sluit in:

Ace Magashule Foto: Argief
Brig. Hangwani Mulaudzi Foto: Argief
Wouter Wessels Foto: Argief
Dr. Roy Jankielsohn Foto: Argief
Mahlohmola Majake Foto: EFF via Twitter

• Die Vrede-suiwelprojek waar R380 miljoen aanvanklik deur die provinsie bestee is en waaraan nog R20 miljoen per jaar bestee word, terwyl agt amptenare aangekla is, maar die politici steeds skotvry loop.

• Die R1,4 miljard-behuisingsprojek wat deur die Zondo-kommissie ondersoek word. “Ons wag steeds dat ons wetstoepassingsagentskappe optree met Mosebenzi Zwane, voormalige LUR vir behuising, wat verlede week voor die Zondo-kommissie getuig het.”

• Die Ramkraalprojek van R106 miljoen word deur die wetgewer ondersoek. Die geld is bestee, maar daar is nog geen wetgewergebou opgerig nie.

• Verskeie kontrakte van gesamentlik R245 miljoen van die Rekgonne-maatskappy as toepassingsagentskap van die Vrystaatse departement van landbou dien voor die howe.

• Dan is daar letterlik duisende omstrede tenders vir projekte en regeringskontrakte op provinsiale en munisipale vlak wat ook ondersoek behoort te word.

• Elzabé Rockman, voormalige LUR vir finansies in die Vrystaat, sê by navraag sy het kennis geneem van die inhegtenisnemings in verband met die asbesdaktel-projek. Magashule het egter nooit die projek met haar bespreek nie, sê sy.

Zwane en Magashule is verskeie kere om kommentaar gebel, maar het nie oproepe beantwoord nie.

Sisi se reaksie

“O Here tog!” was Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, se kommentaar Woensdag per WhatsApp toe sy ingelig is dat Olly Mlamleli, voormalige uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, en ses ander mense weens die omstrede asbesdaktel-kontrak van R255 miljoen in hegtenis geneem word.

Ntombela het sedertdien nie haar telefoon beantwoord toe sy deur Netwerk24 gebel is nie.

Jankielson sê

Jankielsohn sê danksy Magashule se nalatenskap is daar nou honderdduisende Vrystaters wat elke oggend wakker word sonder om te weet of hulle kos op die tafel vir hulself en hul gesinne gaan hê.

“Ons provinsiale regering en ons munisipaliteite is gestroop van geld, infrastruktuur en kundigheid, tot die mate dat hulle nie in staat is om basiese dienste soos water, krag, riolering en vullisverwydering te kan lewer nie.”

Hy sê die Magashule-bewind verteenwoordig swak leierskap, institusionele wangedrag en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid wat die Grondwet ondermyn.

“Magashule se Operasie Hlasela, wat bemark is as ’n veldtog om dienslewering te verbeter, het die rookskerm geword waaragter baie beweerde wandade plaasgevind het.”


'Hele kabinet moet verduidelik'

Wouter Wessels, VF Plus-LP, sê die hele provinsiale kabinet van die Vrystaat sal moet verduidelik wat hier gebeur het.

“Dit is maklik om die skuld nou op amptenare te pak, maar waar is die politici wat die opdragte gegee het? Dié beweerde ongerymdhede en projekte wat uitgewys is, is maar die oortjies van die seekoei. Daar moet baie meer inhegtenisnemings kom.”

Hy sê Magashule was die politieke hoof en sy rol behoort deeglik ondersoek te word. “Hy kan nie nou politieke beskerming geniet bloot omdat hy die sekretaris-generaal van die ANC is nie.”

Enorme skade aangerig tydens Magashule se bewind - EFF

Mahlomola Majake, Vrystaatse ondervoorsitter van die EFF, sê die skade wat onder die Magashule-bewind aan die Vrystaat as provinsie aangerig is, is baie groot met geld wat verkeerd aangewend en misbruik is.

“Dink aan die Vrede-suiwelprojek, Ramkraal, die Letlaka Media-projek, ensomeer.

“Met die behuisingsprojek van R1,4 miljard is die verwagting geskep dat meer mense huise sou kry wat nie gebeur het nie. Dit blyk dat dit net ’n front vir korrupsie kon gewees het.”

Dit het tyd geword dat Magashule voor die Zondo-kommissie gaan verduidelik wat aangaan.

“Hy moet ons ook vertel wie se voorletters die AM is wat op die dokumente van die asbesdaktel-kontrak voorkom, soos wat voor die Zondo-kommissie getuig is.”


Meer oor:  Staatskaping  |  Ace Magashule  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.