Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Valke gryp ANC-hoë van Limpopo, nog 3 oor VBS-skandaal

’n ANC-leier in Limpopo is vroeg Donderdagoggend saam met nog vier mense in onderskeidelik Limpopo en Gauteng in hegtenis geneem weens hul beweerde betrokkenheid by die VBS Mutual Bank-plundering.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die vyf sal Vrydag in die handelsmisdaadhof in die Palm Ridge-landdroshof aan die Oos-Rand verskyn.

Hulle sal op 188 aanklagte, wat diefstal, korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery insluit, verskyn.

Mogale het gesê nóg drie mense sal hulself Donderdag aan die Valke oorgee weens hul beweerde betrokkenheid by die VBS Mutual Bank-sage. Hulle sal ook na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

’n Besturende direkteur van VBS Mutual Bank, ’n voormalige uitvoerende hoof van die bank en die uitvoerende hoof van Vele Investments, is Donderdag deur die Valke in hegtenis geneem. Die bank se hoofkantoor was in Louis Trichardt.

Die ander twee mense wat in klopjagte vroeg Donderdagoggend in hegtenis geneem is, is een van die ANC se topvyf-leiers in Limpopo en ’n werknemer van die Collins Chabane-munisipaliteit in Malamulele.

Mogale sê hulle het glo die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (PMFA) oortree.

Die Collins Chabane-munisipaliteit in Malamulele het R122 miljoen by VBS belê.

Meer as R2,2 miljard is by VBS gesteel, wat veral duisende bejaardes en arm mense in Limpopo van hul spaargeld beroof het.

21 munisipaliteite in Limpopo, Gauteng en Noordwes, het R1,5 miljard tussen 2013 en 2018 onwettig by VBS belê. Munisipaliteite mag nie by ’n onderlinge bank belê nie.

Sewe mense het reeds verlede jaar weens die beweerde plundering van die VBS in die hof verskyn.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê almal wat betrokke was by die plundering van geld by die VBS, sal in hegtenis geneem word.

Hy het in ’n verklaring gesê noudat daar vasgestel is dat ’n georganiseerde misdaadbende glo betrokke was by die VBS-sage, sal daar gefokus word op diegene by munisipaliteite wat onwettig geld in die bank belê het.

Meer oor:  Limpopo  |  Diefstal  |  Valke  |  Bedrog  |  Vbs  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.