Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Valke lê beslag op reuse dwelmvonds op plaas in Kraaifontein buite Kaapstad

Klein en groot daggaplante was deel van die dwelmvonds van R10 miljoen waarop die Valke beslag gelê het op ’n plaas in Kraaifontein buite Kaapstad.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê Senyane Morokapula Rangaka (36) en Rae-Leigh Lauren Adonis (38) is Sondag in hegtenis geneem en het Maandag in die plaaslike landdroshof op aanklagte van dwelmhandel verskyn.

Senyane Morokapula Rangaka (36) en Rae-Leigh Lauren Adonis (38) het op aanklagte van dwelmhandel in die hof verskyn. Foto: Facebook

Die Valke se dwelmeenheid (Saneb) het oor die naweek inligting opgevolg oor ’n plaas waar daar na bewering dwelms gekweek word.

Beamptes het die huis deursoek en glo verskeie daggaprodukte gevind.

Daar is op 200 kg gedroogde dagga beslag gelê sowel as op 272 klein daggaplantjies, 184 groter daggaplante, twee selfone en twee skootrekenaars.

Die Valke het glo dié daggaplante wat van die dak af hang om uit te droog, gevind.
Die klein daggaboompies is glo ook op die plaas gevind.
200 kg dagga is na bewering op die plaas gevind en as bewysstuksakke van die Valke gekonfiskeer.

Hani sê daar sal ook ondersoek gedoen word na of die beskuldigdes enige verwante aanklagte teen hulle het.

Intussen het die polisie Saterdagaand ’n besending dwelms onderskep toe hulle inligting oor ’n dwelmtransaksie gekry het.

Brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die ondersoekspan het die inligting opgevolg en gesien hoe bokse van een voertuig na ’n ander oorgeplaas word.

“Die span het die voertuig agtervolg en die bestuurder in Robert Sobukwe-straat in Ravensmead laat stilhou om die voertuig te deursoek,” sê Potelwa.

Hier het hulle afgekom op 75 000 Mandrax-pille ter waarde van R3 miljoen en daarop beslag gelê.

Die dwelms was glo vir Johannesburg bestem.

Die polisie het beslag gelê op Mandrax ter waarde van R3 miljoen.
Die Mandrax, wat na bewering bestem was vir Johannesburg, is onderskep.
Sowat 300 Mandrax-tabelle lê op ’n tafel nadat die polisie dit na bewering in ’n voertuig in die Strand gevind het.

Potelwa sê ’n 29-jarige man is in hegtenis geneem en sou na verwagting Maandag in die plaaslike landdroshof op aanklagte van dwelmhandel verskyn het.

Sy het nie medianavrae oor die saak beantwoord nie.

Kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê vyf mense is Sondagaand in hegtenis geneem nadat hulle na bewering met 300 Mandrax-pille betrap is.

Die polisie het inligting ontvang oor ’n voertuig wat van Khayelitsha in Somerset-Wes se rigting ry, waarin daar glo dwelms was.

Die voertuig is in Hoofstraat in die Strand gestop en deurgesoek. Die polisie het beslag gelê op 300 tablette met ’n geskatte waarde van R15 000.

“Vier mans tussen die ouderdom van 22 en 36 jaar, asook ’n 34-jarige vrou, is in hegtenis geneem en sal in die landdroshof in Khayelitsha op aanklagte van dwelmhandel verskyn wanneer hulle aangekla word,” sê Traut.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.