Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Valke ondersoek steeds ‘Ace se Pierneef’

Die Valke se ondersoek oor ’n waardevolle Pierneef-skildery van die Vrystaatse provinsiale regering wat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, vroeër na bewering aan sy eertydse lyfwag gegee het, duur voort.

Só sê kapt. Lloyd Ramovha, nasionale woordvoerder van die Valke, spesialis-ondersoekers van die polisie, by navraag.

“Sodra iemand aangekla word en hof toe moet gaan, sal ons almal verwittig,” sê hy.

Die kosbare Pierneef is in November 2018 aan die Vrystaatse provinsiale regering terugbesorg. Hier is Bertus Venter, adjunk-direkteur-generaal: korporatiewe administrasie en samewerking van die provinsiale regering, en Kapung Ralikontsane, die direkteur-generaal, toe hulle die skildery weer in ontvangs geneem het.Foto: Verskaf

Ramovha wou nie sê hoe omvattend die Valke-ondersoek is nie.

“Ons noem ook geen name nie en impliseer niemand in dié stadium nie,” het hy gesê.

Magashule het na bewering die skildery, wat tussen R6 miljoen en R8 miljoen werd is, aan sy lyfwag Ricardo Mettler gegee.

Intussen het die Zondo-kommissie en verskeie ander spesialis-ondersoekers die verdwyning van nog skilderye en kosbare erfenisartikels in die besit van die Vrystaatse provinsiale regering, wetgewer en munisipaliteite begin ondersoek. Dié artikels kan meer as R100 miljoen werd wees.

Rassie Erasmus, private speurder, sê daar is baie kunstenaars in die Rosestad wat hom genader het om die vermeende verdwene skilderye te help soek.

“Ek het ook gehoor daar is ’n losprys op my kop.”

Twee mense wat in vrees leef weens inligting waaroor hulle beskik, het intussen beëdigde verklarings by Volksblad en Netwerk24 ingedien.

Hulle beweer dat hulle in Desember 2014 ooggetuies was toe vier peperduur skilderye van die Vrystaatse wetgewer na ’n bestemming gebring is, in plastiek verpak en met ’n bakkie en sleepwaentjie uit Bloemfontein geneem is.

Die sakeman wat daarmee weggery het, het glo noue bande met politici.

Cuan Hahndiek van die Suid-Afrikaanse Erfenis-hulpbron-agentskap (Sahra) sê hy is bekommerd oor al die kultuur-erfenis van Vrystaathuis, die Vrystaatse premierskantoor en regeringsdepartemente wat verlore gegaan het.

Na bewering het ’n sakeman van Bloemfontein probeer om die skildery deur Strauss & Co in Johannesburg gewaardeer te kry, sodat dit verkoop kon word.

“Ek het al maande gelede vir Kapung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaat, geskryf en ’n lys van al die skilderye en erfenisstukke onder die Vrystaatse regering se beheer aangevra, maar die lys is nie aangestuur nie.

“Ralikontsane het net laat weet dat die Valke met ’n ondersoek besig is.”

Tsiisetso Makhele, premierswoordvoerder, sê die ondersoek by provinsiale regeringsgeboue en die premierskantoor het aan die lig gebring dat dit net die gewraakte Pierneef-skildery is wat by die premierskantoor vermis geraak het.

Dié Pierneef is intussen teruggekry en hang weer in die premierskantoor.

Adv. Bertus Venter, ’n adjunk-direkteur-generaal in die provinsiale regering, sê alle inligting oor kunswerke is aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig.

“Hulle moet besluit of hulle gaan vervolg of nie.”

Dr. Roy Jankielsohn, DA-wetgewerlid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê die vermeende diefstal van die Pierneef-skildery waarby Magashule betrek word, moenie toegesmeer word nie.

Na bewering het ’n sakeman van Bloemfontein probeer om die skildery deur Strauss & Co in Johannesburg gewaardeer te kry, sodat dit verkoop kon word.

“Dit het daartoe gelei dat die skildery as bate van die Vrystaatse provinsiale regering geïdentifiseer en teruggebring kon word.”

Hy sê Magashule kan nie sê hy het nie geweet dat die skildery so waardevol is en dat dit nie aan hom behoort nie.

Jankielsohn sê Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het vroeër op ’n vraag van hom gesê die polisie (nie die Valke nie) het ook die saak ondersoek en dat die saak na die NVG vir besluitneming oor vervolging gestuur is.

Life Mokone, woordvoerder van die wetgewer, sê hy het meer inligting nodig voordat hy op vrae oor skilderye by die wetgewer kan reageer.

Meer oor:  Valke  |  Ace Magashule  |  Politiek  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.