Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Valke slyp kloue vir sakeman ná video oor karre

Die flambojante jong sakeman Hamilton Ndlovu, wat in Mei die aandag getrek het toe hy vyf peperduur motors gekoop en daarmee op sosiale media gespog het, het ook onder die Valke se aandag gekom.

Hulle ondersoek glo bewerings dat Ndlovu voordeel getrek het uit ’n multimiljoenrandkontrak vir persoonlike beskermende toerusting aan die Oos-Kaapse provinsiale regering.

Hul aandag is gevestig op die 32-jarige nadat hy in Mei ’n video op sosiale media gelaai het waarin hy drie Porsches, ’n Jeep en ’n Lamborghini Urus in ontvangs neem.

“Ons kyk na sy sake sedert hy die video opgelaai het. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons gaan optree. Ons is ook in gesprek met die Spesiale Ondersoekeenheid oor die beslaglegging van bates,” het ’n bron in die veiligheidsdienste gesê.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, wou nie kommentaar lewer nie.

Intussen is die registrateur van maatskappye besig om Ndlovu se maatskappy, Hamilton N Holdings, van die maatskappyregister te skrap omdat hy glo nie belastingstate ingedien het nie.

Hamilton N Holdings is luidens die maatskappy se webblad ’n groeiende dienstemaatskappy met ’n hoofkantoor in Melrose Arch in Johannesburg en nog drie kantore elders in die land.

Die maatskappy lewer glo kommersiële en ingenieursdienste in Suider-Afrika.

Ndlovu het aan City Press, susterskoerant van Rapport, gesê hy weet niks van enige Valke-ondersoek of deregistrasieproses nie.

’n Bron na aan hom het aan dié koerant gesê hy is wel informeel oor die ondersoek ingelig, maar nog nie formeel deur die Valke genader nie.

“As hulle hom sedert Mei ondersoek, moes hulle nou al klaar gewees en inhegtenisnemings uitgevoer het indien nodig. Hulle wil net hê dit moet lyk of hulle werk.

“Mense was kwaad oor die video en daar was ander wat vals inligting op sosiale media gelaai het om die jong sakeman te bedrieg. Hulle het beweer hy het bande met die Gautengse premier, David Makhura, wat vals is.” Makhura het in Mei ontken dat hy enige bande met Ndlovu het.

Ndlovu het vroeër verskoning gevra vir die video.

“Ná besinning en advies van my familie en seniors het ek besef dit was in slegte smaak. Dit het op ’n baie slegte tyd verskyn, terwyl ons land geworstel het met ’n onsigbare vyand, Covid-19, wat vir my gemeenskap groot uitdagings veroorsaak het.”

Meer oor:  Hamilton Ndlovu  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.