Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Van Rooyen wil nou geld teruggee

Gerhard van Rooyen wil nou, na vyf jaar, die slagoffers van sy destydse bedrogspul terugbetaal.

Dié aanbod van hom kom nadat die staat ’n aansoek in die handelshof in Pretoria gebring het om sy opgeskorte vonnis van 2013 in werking te stel.

Tog het hy in Julie in die landdroshof in Klerksdorp, waar hy op ’n ander saak verskyn het, beweer die Pretoria-saak teen hom “is stories”.

Gerhardus (Gerhard) van Rooyen. Foto: Facebook

Hy is tans in aanhouding in die Potchefstroom-gevangenis vir die Klerksdorp-saak.

Die 51-jarige bedrieër het in Oktober 2013 in die handelshof in Pretoria skuld beken op agt aanklagte van bedrog. Sy slagoffers het weduwees en bejaardes ingesluit.

Van Rooyen het destyds met sy vonnisoplegging aangevoer dat hy die klaers sou terugbetaal.

Die landdros het dit in ag geneem en hom tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Dit is in geheel opgeskort op voorwaarde dat hy die R241 800 wat hy die klaers skuld, teen R7 000 per maand terugbetaal. Dié opgeskorte tydperk verval in Oktober 2018.

In daardie stadium was dit reeds die sewende keer dat Van Rooyen gevonnis is.

Sedertien het die klaers nie ’n sent ontvang nie en Van Rooyen het verdwyn.

Susan Cilliers berig dat hy egter in Desember 2017 in Potchefstroom aangekeer is nadat die polisie daar ook reeds maande lank na hom gesoek het in verband met ’n motorkooptransaksie in Klerksdorp waar ’n vrou uit R30 000 geswendel is.

Van Rooyen kon toe na Pretoria gebring word vir ’n aansoek om die opgeskorte vonnis van 2013 in werking te stel. Dié moes voor Oktober gebeur, wanneer die opskortingstydperk verval. Die aansoek is egter verskeie kere uitgestel omdat Van Rooyen nie ’n regsverteenwoordiger gehad het nie.

Daar het probleme begin ontstaan om hom van Potchefstroom na Pretoria te bring – in so ’n mate dat die klaers gevrees het polisielede “word omgekoop” en dat hy “skotvry gaan wegkom”.

Ao. Steve Phakula van die Pretoria-polisie se hoofkantoor is toe as die nuwe ondersoekbeampte aangestel, wat gesorg het dat Van Rooyen weer in die handelshof in Pretoria verskyn.

’n Regshulpprokureur, Donald du Plessis, is vir hom aangestel en die aanklaer, adv. Margaret Thulare, kon die aansoek bring om die opgeskorte vonnis in werking te stel.

Die saak is daarna uitgestel, aangesien Van Rooyen glo geld wil bymekaar maak om die klaers terug te betaal.

Dit sal nou weer in September in die hof voorkom sodat die staat die slagoffers se besonderhede aan die verdediging kan verskaf vir die terugbetalings.

Meer oor:  Gerhard Van Rooyen  |  Pretoria  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.