Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vandale verwoes gedenkteken buite Harrismith

Die polisie in Harrismith in die Vrystaat ondersoek ’n saak van opsetlike saakbeskadiging nadat ’n 80 jaar oue nasionale gedenkwaardigheid oor die naweek naby die dorp erg gevandaliseer is.

Die Kidston-gedenkteken nadat dit bykans heeltemal deur vandale verwoes is.

Die Kidston-gedenkteken, ’n nasionale gedenkwaardigheid naby Tandjiesberg by Harrismith, is Saterdagaand vermoedelik deur vandale bykans vernietig.

Die sandsteen-gedenkteken is deur die ouers van lt.kommandeur George Pearson Glen Kidston se ouers opgerig nadat hy en kapt. T.A. Gladstone in 1931 in ’n De Havilland Puss Moth-vliegtuig tussen Johannesburg en Pietermaritzburg gevlieg het en hul vliegtuig in ’n stofstorm oor die platorand naby Tandjiesberg geval het.

Die gedenkteken het sowat 2,75 m hoog gestaan op die witgekalkte buitelyne van ’n vliegtuig wat in klip uitgelê is, en wat duidelik uit die lug sigbaar is.

Leon Strachan van die Harrismith Erfenisstigting sê die netjiese sandsteenstruktuur is afgebreek in ’n oënskynlike soeke na iets waardevols, aangesien albei bronsplate op die toneel gevind is.

Volgens Strachan word slegs die blink vlekvryestaal-koepel vermis.

Die doel van die koepel was om ander vlieëniers op dieselfde roete te herinner aan die gevare in winderige toestande, sê Strachan.

“Dit is geen geheim dat ’n gerug lank reeds die ronde doen dat die kort, stewige gedenkteken ’n skat bewaar nie. Dieselfde bygeloof is ook al oor ander gevalle gerapporteer waar ’n monument se ontwerp van so ’n aard is dat oningeligtes die indruk kan kry dat dit ’n skat verdoesel.”

Die Kidston-gedenkteken vroeër.

Hy sê dit wil voorkom of dit hier ook die geval was.

Strachan sê ’n proses is reeds begin om die rehabilitasie van die gedenkteken te koördineer.

Volgens hom is die man wat die skuldiges aangery het, bekend aan boere in die distrik.

Ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het die klag van saakbeskadiging bevestig.

Meer oor:  Harrismith  |  Vandalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.