Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veediefstal kraai koning in Oos-Kaap

Vir die derde agtereenvolgende jaar is Suid-Afrika se meeste veediefstalsake in die Oos-Kaap aangemeld.

Die Oos-Kaap het agt uit die toptien polisiekantore waar die meeste veediefstalsake landwyd oor die afgelope boekjaar aangemeld is. Boonop het die provinsie se veediefstalsake met 1% toegeneem, in teenstelling met die nasionale syfer wat met 4,2% afgeneem het.

Weziwe Tikana-Gxothiwe, Oos-Kaapse LUR vir veiligheid en vervoer, het Vrydag in Zwelitsha op ’n virtuele mediakonferensie gesê alles word in die stryd gewerp om nie dié titel as die “hoofstad van veediefstal” vir veel langer te dra nie.

Die Oos-Kaap se toptien polisiekantore waar die meeste veediefstalsake aangemeld is:

1. Sulenkama

2. Mount Frere

3. Bityi

4. Katkop

5. Mthatha

6. Qumbu

7. Maluti

8. Tsolo

9. Dalasile

10. Dutywa

Veediefstal was Vrydag een van die hoof besprekingspunte terwyl Tikana-Gxothiwe, lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris en kol. Kevin Moodley, waarnemende provinsiale hoof: misdaadregistrateur, die Oos-Kaap se jongste misdaadstatistieke ontleed het.

Tussen April 2019 tot Maart 2020 is 6 800 veediefstalsake in die provinsie aangemeld. Skape en beeste was die vernaamste buit.

Oor die tydperk is die meeste sake (9,1%) in Oktober aangemeld en die meeste diefstalle het op Donderdae en dan Woensdae gebeur.

Doug Stern, Agri Oos-Kaap se president, kon nie ’n rede voorsien oor hoekom veediewe grootliks in Oktober toegeslaan het nie, maar sê wat hulle ervaar is dat veediewe meestal wag tot volmaan, sodat hulle makliker in die aand kan sien.

Hy sê die toenemende veediefstalle het ’n enorme finansiële uitwerking op boere, wat reeds steier onder die heersende droogte.

Hy sê Agri Oos-Kaap en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het onlangs ’n databasis gestig, waarmee hulle veediefstalsake opvolg om te sien waar hulle hulp aan die polisie kan verleen.

“Met alle respek gesê, die polisie se voete en hulpbronne is beperk. Ons besef dit is tyd om self oplossings te vind, eerder as terugstaan en kritiseer.”

Ntshinga het ook gesê die polisie werk hand aan hand met die landbougemeenskappe in die stryd teen veediefstal. Hul strategie teen veediefstal is ook intussen aangepas, met bykomende polisie-eenhede wat hulp sal verleen.

Willie Clack, voorsitter van die nasionale Veediefstal-voorkomingsforum, het by navraag gesê die probleem van veediefstal in die ooste van die provinsie is ’n probleem wat reeds jare lank heers.

Volgens hom is dié veediefstal meer ’n kulturele probleem as misdaad, aangesien navorsing aandui dat die diefstalle gaan om ’n vertoon van mag en manlikheid. (Die navorsing waarna Clack verwys is deur die geskiedkundige Prof. Jeff Peires in 1994 opgeteken in die wetenskaplike artikel: “Unsocial Bandits: The Stock Thieves of Qumbu and Their Enemies.”)

Clack sê die gebied bestaan ook grootliks uit kommunale grond, waar toesig oor vee nie noodwendig gehandhaaf word nie. “Die vee dwaal af en die eienaar dien ’n klag in. ’n Week later word die vee elders gevind, maar die veediefstalsaak is geopen.”

Hy sê die polisie se doeltreffendheid kan nie aan die getal sake gekoppel word nie, maar eerder aan hoeveel inhegtenisnemings en suksesvolle vervolgings daar is.

Ntshinga het Vrydag onderneem om binnekort meer inligting oor die polisie se veediefstalsuksesse bekend te maak.

Moordsyfer het gedaal, maar enkele plekke styg steeds

Tikana-Gxothiwe het Vrydag die algehele daling van 2,2% in die provinsie se moordsyfer verwelkom, maar sê sy is bekommerd oor die getal moorde in Port Elizabeth en Mthatha.

Benewens die hoë moordstatistieke vir van Port Elizabeth se polisiekantore, het die Bethelsdorp-polisiekantoor van die stad se noordelike die meeste pogings tot moordsake (246) wat landwyd aangemeld is.

Die nabygeleë Gelvandale-polisiekantoor, wat in die hartjie van die bendegeteisterde gebied is, het nasionaal die vyfde meeste pogings tot moordsake, maar dit is 14% minder as verlede jaar se syfer.

Ntshinga het in reaksie gesê die polisie se teenbende-eenheid werk dag en nag in die gebied en hulle het onlangs sukses behaal met bendelede wat swaar vonnisse opgelê is.

Sy sê weens die polisie se toenemende druk in die gebied, is hulle voorbereid daarop dat bendelede na ander dele in die stad gedryf sal word.

Die Oos-Kaap moet harder werk teen seksuele misdaad

Oor die afgelope boekjaar het seksuele misdade in die provinsie met 0,3% afgeneem.

Oor die tydperk is 7 282 verkragtings aangemeld, ’n afname van 23 sake teenoor die vorige boekjaar. Die meeste het gedurende Desember gebeur, terwyl meer as 60% van die verkragtingslagoffers 25 jaar en jonger is.

Tikana-Gxothiwe het gesê die klein afname in seksuele misdaad is ’n stap in die regte rigting, maar gee toe die Oos-Kaap het nog ’n lang pad wat voorlê tot waar die provinsie behoort te wees.

“Dit is ’n onderwerp wat diep verweef is met geslagsgeweld. Hierdie kategorie van misdaad terroriseer meeste huishoudings en gemeenskappe, aangesien die meeste daarvan agter geslote deure gebeur. Dit word eers bekend nadat die misdryf gepleeg is en in meeste gevalle wanneer die slagoffers dood is.”

Luidens die misdaadstatistieke is 26 970 sake van misdaad teen vroue en kinders in die provinsie aangemeld. Die totaal is ’n afname van 6,8%.

In die Oos-Kaap is Bethelsdorp, KwaZakhele, Mthatha, Mdantsane en Oos-Londen die polisiekantore waar die meeste vroueslagoffers aangemeld het.

Veldtogte teen geslagsgeweld moet volgens Tikana-Gxothiwe verskerp word deur goeie samewerking tussen privaat organisasies en die regering.

Meer oor:  Misdaadstatistieke  |  Veediefstal  |  Oos-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.