Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veediefstal: ‘Werklike verliese is onberekenbaar’

Veediefstal in Suid-Afrika bly ’n enorme probleem en hoewel statistieke wys dat dié misdaad afgeneem het, sê die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) ’n mens moet onthou dat die daling vanaf ’n baie hoë vlak is.

Bheki Cele, minister van polisie, het met die onlangse bekendmaking van die kwartaallikse misdaadstatistieke gesê dat 74 947 stuks vee in die laaste kwartaal van 2020 in Suid-Afrika gesteel is.

Hiervan was 44,96% skape, 23,29% beeste en 21,37% bokke. Die res is perde en ander plaasdiere.

Die veediefstalsyfer het landwyd met 7% gedaal, maar Gauteng het ’n styging van 5% getoon.

Noordwes het ’n afname van 19% ondervind.

Die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum (NVVF) sê hy sal veediefstal altyd as ’n ernstige misdaad beskou – ongeag afnames of stygings in die aantal sake wat aangemeld word.

Dit het ’n ernstige emosionele en ekonomiese impak op vee-eienaars.

Willie Clack, voorsitter van die NVVF, sê veediefstal bly ’n gewilde misdaad omdat vee die een kommoditeit is waarvan die waarde nie weens diefstal afneem nie.

Waar ander diewe hul buit dikwels vir heelwat goedkoper moet verkoop, kry ’n veedief markprys vir ’n bees, skaap of bok, sê hy.

Die landboubedryf verloor jaarliks R1,4 miljard weens veediefstal.

Clack sê dié syfer word bereken op veediefstalle wat aangemeld is en sluit nie die verliese in wat boere nie aanmeld nie.

In 2011 is 36% van veediefstalle nie aangemeld nie. Die syfer het in 2018 gestyg tot 77% en daar gestabiliseer.

“Die werklike verliese is onberekenbaar.”

Hy sê verlede jaar se inperkings het beslis veediewe gerem en dat die daling in veediefstal wel met die verskillende vlakke van die inperkings ooreenstem.

“Ongelukkig kry ons die misdaadsyfers kwartaalliks, as ons dit maandeliks kry, sal ’n mens nog gouer die heersende neigings kan sien,” sê hy.

Clack sê dat die ooste van die land beslis ook meer onder veediefstal deurloop en die N1 is regdeur die land ’n skeidslyn.

Die droër westelike gebiede gaan gewoonlik nie so swaar gebuk onder veediefstal soos die ooste nie.

Hy sê dat veediefstal op grondvlak afneem wanneer ’n veedief in hegtenis geneem word en boere kan gewoonlik onmiddellik agterkom wanneer so ’n misdadiger op parool of borgtog vrygelaat word.

“Die optrede op grondvlak het dus dikwels ’n direkte uitwerking op veediefstal in ’n sekere distrik.”

Herkie Viljoen, ’n boer en veiligheidsverteenwoordiger in die Oos-Vrystaat, sê boere ondervind al hoe meer dat veediewe kalwers van so jonk as ’n maand oud steel.

Hy sê veediewe skuif ook rond en sal op ander plase toeslaan wanneer boere kameras installeer en meer paraat is.

Clack sê die RPO het sedert 2016 agtergekom dat veediewe kalwers steel en dat dit al hoe meer voorkom.

Hy sê kameras werk goed om verdagte voertuie te identifiseer, maar die RPO is nie seker presies wat die impak van kameras op veediefstal is nie.

Meer oor:  Veediefstal  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.