Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veediewe laat slagveld van 36 karkasse agter

Skaapdiewe in die Hopetown-distrik het Donderdagoggend ’n slagveld van 36 karkasse agtergelaat toe hulle vermoedelik inderhaas van die toneel gevlug het.

Paul van Niekerk, ’n boer van die omgewing, het Donderdagoggend foto’s van die toneel, waar 32 ooie en vier lammers van sy buurman, dr. Waltie Vermeulen, in die veld geslag en agtergelaat is, op sosiale media gedeel.

“Vanoggend lyk dit soos ’n donnerse slagveld hier,” is sy opskrif by die plasing.

Baie van die ooie wat veediewe Donderdag in die vroeë oggendure in die veld geslag het, was met tweelinge dragtig. Foto: Paul van Niekerk

Hy sê die diewe het vermoedelik gevlug toe die boere uit die omgewing op die alarms van die skape gereageer het.

“Ons was seker twee minute te laat. Die stoom het nog uit die skape getrek toe ons daar aankom. Die skape is oor ’n afstand van 4 km na die N12 aangejaag en is daar teen die draad in die veld geslag.”

Volgens hom was die meeste van die ooie dragtig met tweelinge.

Van Niekerk sê die polisie van Kimberley se veediefstaleenheid het baie vinnig gereageer. Hulle het die omgewing saam met die boere gefynkam, maar kon niemand vind nie.

Hy sê die boere sukkel geweldig met veediewe in die omgewing en in die afgelope twee maande is 119 skape in ’n radius van 10 km so op sy bure se plase geslag. Dit is ’n verlies van sowat R238 000.

Hy sê ’n skaapdiefstalsindikaat wat verlede jaar vasgetrek is nadat sowat 600 skape in die omgewing geslag en gesteel is, was van die gevangenes wat tydens die Covid-19-inperking uit die tronk vrygelaat is.

“Die veediefstaleenheid het ons toe gewaarsku om op ons hoede te wees. Die probleem raak net erger. Dit hou net nie op nie.”

Die skape is aangejaag en in die veld geslag. Foto: Paul van Niekerk

Hy sê boere wat deur die dag harde arbeid moet verrig, moet nou saans hul plase patrolleer en is uitgeput.

Intussen het vyf vermeende veediewe Woensdag en Donderdag in die hof in Hopetown op aanklagte van veediefstal verskyn.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê Collin West, Jasey Queen Tshangela, Donavin Prince, Piet Setlhabi en Theo Naude is onderskeidelik Dinsdag en Woensdag in Steynsville naby Hopetown aangekeer.

Twee van vier gesteelde skape is by die mans gevind en die polisie het op ’n wit Isuzu-bakkie, wat na bewering in die diefstal gebruik is, beslag gelê.

Die verdagtes het vlugtig in die hof verskyn en die saak is tot 14 Desember uitgestel.

Die veediefstaleenheid het ’n beroep gedoen op boere om hul vee te merk sodat die polisie die diere kan identifiseer.

Hulle vra ook dat die boere gereeld hul vee tel, heinings en kampdrade nagaan, kameras by hoofroetes en weikampe aanbring en by veediefstalvoorkomingsnetwerke aansluit.

“Dit is belangrik dat boere onmiddellik inligting oor verdagte voertuie in die omgewing en enige voorvalle van veediefstal by die polisie aanmeld,” sê Kock.

Meer oor:  Hopetown  |  Veediewe  |  Karkasse  |  Slagveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.