Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veediewe probeer in Vrystaat met 22 skape wegkom

Veediewe het Woensdagoggend hul rieme styfgeloop toe hulle ’n veiligheidsmaatskappy se bakkie gestamp en weggejaag het.

Die bakkie met die gesteelde skape agterop. Foto: Verskaf

Tommy Pienaar van Basopa Sekuriteit wat plaasbeveiliging verskaf, sê sy wagte het vroegoggend ’n bakkie en sleepwa met skape op uit Frankfort na Heilbron se rigting in die Vrystaat gesien ry.

“Die bakkie het verdag gelyk en my mense het die bestuurder beveel om stil te hou,” sê Pienaar.

Die bakkie se insittendes was glo baie aggressief en daar was ’n woordewisseling tussen hulle en die veiligheidswagte.

Volgens Pienaar het die bakkiebestuurder die volgende oomblik die patrollievoertuig uit die pad gestamp en met die skape weggejaag.

Die wagte het Pienaar gebel en hy het dadelik die polisie, die boere, Heilbron se beheerkamer asook van sy ander wagte in die gebied laat weet om op die uitkyk vir die bakkie te wees.

Pienaar sê polisielede van Sasolburg het ook baie moeite gedoen en die bakkie en sleepwa met 22 skape is by Heilbron van die pad getrek.

Die bestuurder en sy handlangers is in hegtenis geneem.

Pienaar het intussen foto’s van die skape se tatoeëermerke na landbougroepe aangestuur en ’n boer van Vrede, Manie Wessels, het die skape as syne geëien.

Ek glo die bakkie en sleepwa was te vol en hulle het die diere net daar gelos.
Tommy Pienaar

Pienaar sê die skape is teen die N3 naby Vrede gesteel en Wessels het afgekom op nog skape, waarvan die pote vasgebind was.

Die sleepwa waarin die gesteelde skaap vervoer is. Foto: Verskaf

“Ek glo die bakkie en sleepwa was te vol en hulle het die diere net daar gelos,” sê hy.

Pienaar sê sy maatskappy patrolleer 300 000 hektaar tussen Petrus Steyn, Reitz, Tweeling, Frankfort en Deneysville.

Hy sê die afgelope drie weke het voorvalle van veediefstal erg in die gebied toegeneem.

Volgens Pienaar was die skape vermoedelik bestem vir die Vaaldriehoek, waar dit meestal verkoop word.

Hy sê die polisie en die plaaslike gemeenskap het met groot sukses saamgewerk om die diewe vas te trek.

Konst. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie sal later ’n verklaring uitreik.

Meer oor:  Vrystaat  |  Skape  |  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.