Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veediewe slaan skape dood wat nie kan byhou

“Die moeilikste ding vir my was om myself te beteuel toe ek sien hoe bloeddorstig en barbaars my skape doodgeslaan is,” sê Bertus van der Westhuizen van Heilbron.

Van Bertus van der Westhuizen van Heilbron se skape is doodgeslaan toe hulle nie kon byhou terwyl diewe hulle aanjaag nie.Foto: Verskaf

Van der Westhuizen, voorsitter van die TLU SA in die Vrystaat, het Donderdagaand onder veediewe deurgeloop.

Die diewe het van die ouer swaar dragtige ooie, wat nie kon byhou toe hulle aangejaag is nie, langs die pad doodgeslaan.

Van der Westhuizen sê die ooie is sowat 20 km deur die veld aangejaag en veediewe het sover hulle die skape gejaag het lyndrade geknip.

Van die ander ooie het weens uitputting gevrek.

Van der Westhuizen sê hy het uitstekende diens van die polisie gekry en die skape is in die Phiritona-township by Heilbron opgespoor.

“Van die skape was in ’n kraal en ander in ’n sinkhuis vasgebind,” sê hy.

“Ek het 96 skape teruggekry en 14 dooies. Ek kort nog tien,” sê hy.

Die verlies wat hy gely het, beloop sowat R50 000.

Van der Westhuizen sê die diewe het ook diesel en gereedskap op sy werf gesteel.

“Daar was vermoedelik vyf mense met pangas op my werf, hulle spore is oral. Hulle het van die gereedskap wat hulle gesteel het by die skaapkraal laat lê.”

Van der Westhuizen sê veediewe het drie weke gelede probeer om 80 beeste by hom te steel.

Van die ooie het weens uitputting gevrek toe veediewe hulle sowat 20 km ver in die nag aangejaag het.Foto: Verskaf
Van die ooie was in ’n kamer weggesteek.Foto: Verskaf
Die veediewe het van die skape in ’n kraal weggesteek het.Foto: Verskaf

’n Vers het in die teerpad voor ’n vragmotor beland en is doodgery. Die diewe het die beeste net so gelos toe die polisie opdaag.

Hoewel die polisie se statistieke aandui dat veediefstal in die Vrystaat met 0,08% gedaal het, meen die meeste boere dat dit by die dag toeneem.

Dr. Jane Buys, risiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), sê veediefstal word ook dikwels nie gerapporteer nie omdat baie boere nie kans sien vir die rompslomp om ’n klag in te dien nie.

Buys sê die polisie se statistieke gee ook geen aanduiding van die waarde en die hoeveelheid vee wat gesteel is nie.

Veediefstal is volgens Buys die grootste eiendomsverwante misdaad op plase.

Twee mense, ’n man en ’n vrou, is reeds in verband met die diefstal by Van der Westhuizen aangekeer.

Meer oor:  Heilbron  |  Boere  |  Skape  |  Veediefstal  |  Landbou  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.