Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veediewe vlug tot in polisiestasie vir boere

’n Wilde jaagtog waartydens vermeende veediewe glo onder meer moedswillig oor ’n boer gery het, het geëindig toe hulle in Parys se polisiestasie ingehardloop het en daar gaan skuil het.

Juan Greeff
Dié 19 skape van Juan Greeff was onder n seiltjie agterop ’n bakkie toegemaak. Greeff sê van hulle het byna versmoor.

“Help, help, hulle gaan ons doodmaak!” het een van die mans glo geskree toe hy by die aanklagkantoor in hardloop met ’n groep boere op sy hakke.

Juan Greeff, ’n boer en pastoor van die AGS-kerk in Vredefort, sê hy het Vrydagnag agtergekom veediewe het 100 skape by hom gesteel.

Boere wat aan die S80-pad by Vredefort bly, is vroeër gewaarsku dat veediewe beplan om hier toe te slaan.

Greeff het alarm gemaak en lede van Vredefortkoepel se gemeenskapspolisiëringsforum het paaie in die omgewing afgesper en na die veediewe gesoek.

Greeff sê die diewe het die skape deur vyf plase aangejaag en sover hulle geloop het van die skape “verloor”.

Omstreeks 04:50 Saterdagoggend, toe dit al lig geword het, is ’n verdagte bakkie in die omgewing opgemerk.

Die boere het die bestuurder beveel om stil te hou.

wimpie louw
Wimpie Louw (25) in die Mediclinic Potchefstroom.

Wimpie Louw (25) het Sondag uit sy hospitaalbed vertel die bestuurder van die bakkie het aangedui dat hy by die padversperring gaan stilhou deur sy noodligte aan te skakel en spoed te verminder.

“Die volgende oomblik toe hoor ek aan die enjin hy gee vet en toe kom hy vir my.”

Ek het teen ’n ander bakkie gestaan en ek glo hy wou my teen daardie bakkie “smeer”, vertel Louw.

Louw het in die lug gespring en die bakkie het hom geskep sodat hy deur die lug getrek en in die teerpad geval het.

Een van die mans wat glo ’n boer probeer doodry het en toe ná ’n wilde jaagtog na die polisiestasie in Parys gevlug het.

“Gelukkig was ek vol adrenalien en het ek besef ek moet uit die pad kom voordat ek doodgery word,” sê hy.

“My pa, Martin, se bakkie was naby en ek het agterop geklim. My pa het gesien ek is op en het saam met die ander boere die diewe agterna gesit.”

Louw en Greeff sê die diewe het ander padgebruikers van die pad gery, oor stopstrate en verkeersligte gejaag en by Parys se polisiestasie uit die bakkie gespring en by die gebou in gevlug.

Die mans is daar in hegtenis geneem.

Louw is Saterdag in die Mediclinic Potchefstroom opgeneem.

Hy het verskeie skaafwonde en van sy ligamente is gekneus en gerek, maar hy is Sondag uit die hospitaal ontslaan.

Greeff sê 19 van sy skape was op die bakkie gelaai. Die res het hy Saterdag gaan soek op die plase waardeur die veediewe hulle gejaag het.

“Ek het teen Saterdagaand al my skape teruggekry.”

Die polisie het nog nie die voorval bevestig nie.

Meer oor:  Polisie  |  Parys  |  Boere  |  Skape  |  Veediefstal  |  Landbou  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.