Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veediewe woeker, maar polisie neem boer se wapens af

Veediewe het sy veewagter oorrompel en vasgebind en sy lewende beeste se hakskene en ore is al by ’n vorige veediefstal afgesny, maar nou word hý aangekla en die polisie, wat die diewe glo help, vat sý wapens, sê ’n Oos-Vrystaatse boer.

Herkie Viljoen, voorsitter van die Bethlehem-distrikslandbou-unie.

“Jy is skuldig nog voordat die polisie die verdagtes opgelaai het,” sê Robbie Prinsloo van die Bethlehem-distrik.

Sy veewagter is op 23 September verlede jaar vasgebind omdat veediewe die kraal se sleutel wou hê. Prinsloo en nog werkers het die vier diewe betrap.

“Die mans het weggehardloop en ons is agter hulle aan en kon twee vang. Terwyl die gewapende een van die vier weggehardloop het, het die ander drie vir hom geskreeu om te skiet.”

Terwyl hulle vier en ’n half uur vir die polisie gewag het, het die twee mans volgens Prinsloo erken hulle het vroeër koeie op sy plaas gesteel en teruggekeer om sy perde te steel.

‘Ons sit nou weer met ’n hoop dossiere.’

“Hulle erken hulle word deur die polisie bygestaan en dat hulle R5 000 per bees en R3 000 per perd betaal word, waarna die vee aan ’n sindikaat oorhandig word wat dit elders gaan slag.”

Volgens Prinsloo ondersoek die polisie bloot ’n saak van betreding teen die twee mans.

Ure later, om 00:45, ontvang Prinsloo ’n oproep dat hy hom dadelik by die Phuthaditjhaba-polisiekantoor moet aanmeld. Hy het gevra dat hulle hom die volgende dag op sy plaas kom sien in die teenwoordigheid van sy prokureur, Lou van Niekerk.

Van Niekerk sê onder die ses polisielede wat daar opgedaag het, was meer as een kolonel en ’n brigadier. ’n Speurder-kolonel wou Prinsloo op aanklag van poging tot moord in hegtenis neem.

Toe Van Niekerk sê dit sal onregmatig wees, klim die klompie terug in hul motors en ry tot by die plaashek. “Toe sê hulle, hulle soek die wapen wat Robbie sou gebruik het in ’n voorval om een van die diewe te wond.”

Gesteelde vee van Robbie Prinsloo word tot in skeure en rantjies soos dié gejaag, waar hul hakskene gesny word.

Prinsloo het die wapen gaan haal wat hy gewoonlik by hom dra en kort tevore nog gebruik het om ’n bees mee te skiet, maar een van die kolonels wou ál sy vuurwapens hê.

“Wat het Robbie verkeerd gedoen? Hy het sy eiendom beskerm,” sê Van Niekerk.

Sedert September het Prinsloo reeds tien keer in die hof in Qwa-Qwa verskyn. Op 12 Januarie het Van Niekerk gevra die hof moet beveel al Prinsloo se wapens moet teruggegee word. Dis toegestaan, maar teen eergister het dit nog nie gebeur nie.

“Blykbaar het die polisie gelieg oor die rede vir die toetsing van die wapens en dit is waarom ballisties nie die wapens wil laat gaan nie,” sê Van Niekerk. “Ek het dit duidelik gemaak die polisie sou fouteer omdat daar nie genoegsame inligting is of was om redelikerwys te dink of vermoed ’n voorval van poging tot moord of aanranding het plaasgevind nie.”

Van Niekerk het op 16 Februarie aansoek gedoen dat die ondersoekbeampte en die seniors in die saak aan minagting van ’n hofbevel skuldig bevind word.

Intussen word Prinsloo aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer, wat hy ontken. Hy sê veediefstal is jare lank reeds ’n probleem. “Die afgelope ses maande is daar elke aand ’n veediefstalverwante voorval – óf die onwettige jag met honde óf veediefstal óf ’n poging tot veediefstal. Die veediewe is gewapen, so die werkers is versigtig.”

Volgens Prinsloo jaag die diewe die beeste in die nag tussen 45 km en 65 km aan. “Die diere se hoewe bloei, hul hakskene het nie meer hare aan nie. As hy ’n oorplaatjie aan het, sny hulle summier die dier se oor af. As die dier uitbreek, jaag hulle hom tot in ’n sloot en kap sy hakskene af. Dit is ’n geval van as hulle hom nie kan kry nie, sal die boer hom ook nie kry nie.”

Hy sê ook diewe smeer molasse oor die beeste se brandmerke en brand die merk met ’n warm graaf weg.

Eduard Marais, sameroeper van die Voorberg-plaasveiligheidsgroep in Bethlehem, sê daar is ’n patroon: Wanneer boere en/of hul werkers veediewe of betreders op hul grond betrap en die polisie bel, kry die boer die volgende dag ’n oproep van die polisie dat hy hom óf by die kantoor moet aanmeld óf dat hy in hegtenis geneem gaan word op aanklagte soos die rig van ’n vuurwapen, poging tot moord of aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Dan kom dit aan die lig dat die vermeende veediewe of betreders op waarskuwing vrygelaat is en/of gebrekkige inligting word deur die polisie ingewin vir vervolging.”

Maande voor die moord op die plaasbestuurder Brendin Horner van die Paul Roux-distrik op 1 Oktober het boere ’n gedetailleerde verslag oor die veediefstal in die Oos-Vrystaat aan die Valke oorhandig, maar daar het dadels van gekom.

Herkie Viljoen, voorsitter van die Bethlehem-distrikslandbou-unie, sê: “Ons sit nou weer met ’n hoop dossiere.

“Die veediefstal het wel verskuif nadat kameras in die westelike deel van Bethlehem tot by Paul Roux opgerig is, maar dit hou nie op nie.”

Brig. Motantsi Makhele, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n taakspan wat verlede jaar deur die minister van polisie gestig is, werk nou saam met boere om veediefstal hok te slaan en baie sukses is reeds behaal.

Meer oor:  Bethlehem  |  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.