Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Veg terug teen plaasaanvallers’

Bewapen julself en veg terug teen plaasaanvallers, maar doen dit binne die raamwerk van die wet.

Dít was Woensdagmiddag die boodskap van AfriForum en die landbou-organisasie Saai aan Suid-Afrikaanse boere om plaasmoorde en -aanvalle te voorkom.

“Waar die regering faal (om landelike gemeenskappe veilig te hou), moet ons na onsself omsien. Dit is nou ’n saak van lewe en dood,” het dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, op ’n mediakonferensie van AfriForum in Pretoria gesê.

Dr. Theo de Jager Woensdagmiddag op AfriForum se mediakonferensie in Pretoria. Foto: AfriForum

“Julle (die boere) is nou op jul eie. Neem verantwoordelikheid vir jul eie veiligheid.

“Boere moet seker maak hulle is bewapen en die wapens word goed onderhou.

“Geen oplossing vir plaasaanvalle en -moorde is moontlik voordat die regering nie erken dat dit ’n ernstige probleem is wat Suid-Afrika in die gesig staar nie,” het De Jager gesê.

Daar was die laaste ruk – veral nadat vlak 3 van die Covid-19-inperking ingetree het – ’n skerp toename in plaasaanvalle en -moorde.

AfriForum sê daar was in Junie 40 plaasaanvalle en vyf plaasmoorde. Tot dusver was daar in Julie 15 plaasaanvalle en vier plaasmoorde.

Die aanvalle word toenemend wreed.

De Jager, wat ook president van die Wêreldlandbou-organisasie is, sê die druk op die regering neem internasionaal toe oor die kwessie.

Al hoe meer ambassades in Suid-Afrika begin navraag doen oor statistieke oor plaasaanvalle en -moorde en die buitelandse media doen meer gereeld verslag hieroor.

De Jager het gesê dit het tyd geword dat ’n onafhanklike kommissie van ondersoek aangestel word om die kwessie van plaasaanvalle en -moorde deeglik te ondersoek.

Só ’n kommissie behoort ondersoek in te stel na die faktore, die aard en die oorsprong van plaasaanvalle en -moorde, sowel as die politiek-maatskaplike omgewing waarin dit voorkom.

Meer wetenskaplike navorsing is ook nodig.

De Jager het gesê dit is belangrik dat boere hulle by landbou-organisasies se veiligheidsaksies inskakel.

Dié reg moet eenvoudig opgeneem en gebruik word. Dit is hoog tyd dat elke wetsgehoorsame burger wat in ’n landelike gebied werk en woon hulself binne die raamwerk van die wet bewapen.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dié organisasie vra nie vir spesiale behandeling oor dié aanvalle nie, maar vir gelyke behandeling.

“Die regering het geen probleem daarmee om gefokusde teenstrategieë te ontwikkel om ’n verskeidenheid van unieke misdade te bekamp nie. Dit sluit in geweld teen vroue en kinders, bendeverwante geweld, koperkabeldiefstal, transitorooftogte en renosterstropery, om maar ’n paar te noem.

“Dit is slegs in die geval van plaasmoorde dat ons skielik gekonfronteer word met, in die ergste geval, kabinetslede wat dié misdade regverdig, of ten beste die bestaan van die krisis as iets onbelangriks afmaak,” sê hy.

Roets het op die mediakonferensie ook die inhoud bekend gemaak van ’n ope brief wat AfriForum aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur het.

In dié brief word Ramaphosa gevra om in te gryp.

Tien praktiese stappe wat die regering behoort te doen om plaasmoorde doeltreffend te bekamp, word ook in dié brief uiteengesit.

Die organisasie stel onder meer voor haatspraak waarin die geweld teenoor boere aangemoedig of verromantiseer word, moet gekriminaliseer word.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid, laat die wet oorgenoeg ruimte vir wetsgehoorsame burgers om hulself te beskerm.

“Dié reg moet eenvoudig opgeneem en gebruik word. Dit is hoog tyd dat elke wetsgehoorsame burger wat in ’n landelike gebied werk en woon hulself binne die raamwerk van die wet bewapen.

“Elke persoon moet weet wanneer hulle mag skiet, en moet in staat wees om hulself, hul gesinne, bure en gemeenskap te beskerm. Bewapen jouself en leer jou wapen ken.

“Die regering het ons landelike gemeenskappe tot nou bloot in die steek gelaat.

“Ons moet onsself organiseer en proaktief optree om aanvalle af te weer.”

Dit het die laaste ruk reeds begin gebeur dat boere en werkers toenemend begin terugveg en hulself verdedig het. Verskeie aanvallers is die afgelope tyd deur slagoffers gewond of doodgeskiet.

Die meeste aanvalle word met militêre presisie beplan.

Die politieke ontleder Theo Venter sê hy sou ’n ander benadering as AfriForum en Saai gevolg het.

“Die probleem met só ’n oproep om bewapening kan meer nagevolgê hê as wat die bedoeling daarmee is. Dit kan verkeerd vertolk word.”

Voorstelle aan die president:

• Erken die erns van die krisis en maak die statistieke oor plaasaanvalle en -moorde elke kwartaal bekend;

• Laat doen deurlopend onafhanklike navorsing oor die omvang van die krisis, die verskynsel hiervan en die

doelmatigheid van ’n verskeidenheid van teenstrategieë;

• Betrek plaaslike gemeenskappe deur regeringsgefinansierde strukture om die rol te vervul van die destydse kommandostelsel;

• Erken plaasaanvalle as ’n prioriteit vir die Valke;

• Werk met die burgerlike gemeenskap saam om die polisie se reaksie op plaasaanvalle te verbeter;

• Hersien die nasionale landelike veiligheidstrategie om spesifiek voorsiening te maak vir ’n gefokusde reaksie op plaasaanvalle;

• Stig gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede;

• Volg ’n holistiese benadering jeens plaasaanvalle in teenstelling met die huidige plaaslike fokus asof dit geïsoleerde gebeurtenisse is;

• Voorsien omvattende ondersteuning vir slagoffers gedurende die hele proses;

• Stel wetgewing in wat bepaal dat daar meer omvangryk met plaasaanvalle gehandel word. Dit sluit in die kriminalisering van haatspraak waarin geweld teenoor boere aangemoedig of verromantiseer word.

Ander feite volgens AfriForum:

• Die meeste plaasaanvalle vind tussen middernag en vieruur soggens plaas;

• In 18,4% van plaasaanvalle is niks gesteel nie;

• 60,5% van aanvalle was op plase, 31,3% op kleinhoewes, 4% by lodges en die res elders;

• In Gauteng is die meeste aanvalle op kleinhoewes.

• Die vier gevaarlikste omgewings wat plaasaanvalle betref, is Brits (Noordwes), Kameeldrift, Pretoria-Noord en Cullinan (almal in Gauteng);

• In 42,2% van aanvalle is vuurwapens gebruik. In net 7,5% van aanvalle is messe en kapmesse gebruik.

Meer oor:  Afriforum  |  Saai  |  Plaasmoorde  |  Wet  |  Bewapen  |  Plaasaanvallers  |  Raamwerk  |  Boere  |  Beveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.