Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veiligheid verskerp ná doodskoot in Manyane-oord

Die bestuur van die Manyane-oord in die Pilanesberg Nasionale Park was reeds besig met die oprig van ’n geëlektrifiseerde heining en veiligheidskameras toe ’n rower Saterdagaand deur ’n gas in die oord doodgeskiet is.

Shawn Pauw Foto: Facebook

Dié proses wat juis begin het weens kommer oor gaste se veiligheid, word nou bespoedig, sê Stephinah Tshehla, bestuurder by Manyane in Noordwes.

Bykomende veiligheidswagte word ook nou na die oord ontplooi.

Vyf rowers wat met messe gewapen was, het Shawn Pauw en sy vrou, Caroline, Saterdagaand in hul chalet oorval. Tshehla sê die rowers het hulle gedreig en dat Shawn vergeefs probeer het om hulle uit te jaag, voordat hy een van die rowers doodgeskiet het.

Die ander rowers het gevlug en was teen Woensdagmiddag nog op vrye voet.

Veiligheidspersoneel, polisielede en bestuurslede van die oord was gou op die toneel, sê Tshehla.

“Ons het die egpaar na ’n ander chalet geneem en daar was ’n veiligheidswag by hulle.”

Hoewel Manyane in die park geleë is, besit en bestuur Golden Leopard Resorts (GLR) die oord. Volgens Tshehla is GLR al maande in gesprek met die park oor gebrekkige veiligheid, ná voorvalle sedert einde 2018. Patrollering by Manyane en Pilanesberg is sedertdien verskerp.

Volgens Tshehla lyk dit uit die patroon van die voetspore ná voorvalle, dat misdadigers deur die park se heinings kom en dan na verligte gebiede soos Manyane beweeg.

’n Personeellid het vroeër gesê daar was sedert Desember 2018 minstens twee inbrake by Manyane.

Daar heers kommer oor ’n kuierplek naby die oord waar veral Saterdag- en Sondagaande laat gekuier en gedrink word.

Tshehla sê hulle is ook bekommerd oor ’n kuierplek naby die oord waar veral Saterdag- en Sondagaande laat gekuier en gedrink word.

“Behalwe vir die geraas, lyk dit asof daar ’n verband is tussen die naweekkuiery daar en voorvalle by die oord. Ons het die saak al verskeie kere met die polisie en plaaslike munisipaliteit bespreek en sal voortgaan om dit te doen om ’n oplossing te vind.”

Volgens Tshehla het GLR nou alle veiligheidspersoneel se af- en verlofdae gekanselleer om seker te maak daar is genoeg personeel die komende langnaweek en skoolvakansie in Manyane.

Bykomende veiligheidspersoneel word ook van die sustersoord in Mahikeng ontplooi.

Die hoof- en ingangshek na Manyane sal nou 20:00 sluit en gaste sal ’n spesiale pas wat deur die oordbestuur onderteken is, moet wys indien hulle later wil uitgaan en terugkom. “Elke voertuig wat by Manyane inkom, sal deeglik deurgesoek word,” sê Tshehla.

* Die polisie ondersoek sake van gewapende roof of moord ná Saterdagaand se aanval, sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes. Die moordondersoek is standaardpraktyk in sulke gevalle, selfs al tree ’n persoon in noodweer op.

Die nasionale vervolgingsgesag moet nog besluit of Pauw vervolg gaan word.

Meer oor:  Vakansieoord  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.