Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Veiligheidswag geskiet: Familie vra ‘bid vir hom’

Bid. Hou aan bid.

Dit is die smeek-versoek van Lourens Brummer se familie wat by die hospitaal waak sedert die veiligheidswag Donderdag tydens ’n jaagtog met rowers gewond is.

Lourens Brummer wat Donderdagoggend ernstig gewond is toe ’n rower hom geskiet het. Foto: Verskaf

Brummer (29), ’n reaksie-beampte van Kilnerpark Sekuriteit, was agter die stuur van sy werkvoertuig toe een van die vlugtende rowers teruggedraai en hom van die passasierskant deur die venster geskiet het.

Die koeël het hom in die lies getref en sy heupbeen gebreek.

Omstanders het vertel dat hy “verskriklik erg” gebloei het en ’n noodhelikopter van Netcare 911 het hom weens die erns van die besering na ’n hospitaal in Boksburg geneem.

Brummer het ’n noodoperasie ondergaan en is daarna in die waakeenheid opgeneem.

Ancelize van der Kooi van Kilnerpark Sekuriteit het Vrydag gesê hy is Donderdagaand inderhaas weer teater toe geneem, omdat die wond weer begin bloei het.

Dis geheg en Brummer is terug na die waakeenheid.

Vrydagoggend om 03:00 is hy aan ’n dialise-masjien gekoppel.

“Sy niere het begin swaar trek weens die geweldige bloedverlies wat hy gehad het,” het Van der Kooi verduidelik.

“Volgens die dokters is die volgende drie dae baie kritiek. Hulle het Lourens onder verdowing geplaas sodat sy liggaam kan rus.

“Sy familie vra dat die mense asseblief aanhou bid vir sy herstel,” sê Van der Kooi.

Brummer was Donderdag deel van ’n groep veiligheidsbeamptes wat gereageer het toe ’n winkel in Kilnerpark, Pretoria, beroof is.

Kapt. Coba Brits, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê ses mans en twee vroue het die oggend omstreeks 10:00 by die Neon Café ingestap.

Vyf van die verdagtes het vuurwapens gehad.

Van der Kooi het vroeër verduidelik dat hul beamptes nie gewapen is nie, maar in ’n geval soos Donderdag verdagtes agtervolg terwyl hulle in kontak met die polisie is, sodat dié die voortvlugtendes vinniger kan opspoor.

“Terwyl hulle die winkel beroof het, het iemand die paniekknoppie gedruk, wat Kilnerpark Sekuriteit ontbied het,” het sy gesê.

Intussen het ’n ander private veiligheidswag wat by die winkel werk, ook gereageer.

Die rowers het hom oorrompel, aangerand en sy foon gevat.

Hulle het ook ’n kasregister met R4 000, sowel as ’n werker se foon, kontant en beursie geroof.

Toe lede van Kilnerpark Sekuriteit opdaag, het die rowers in ’n wit Toyota Quantum-bussie gespring en weggejaag.

By ’n afdraai het die bussie gestop, die verdagtes uitgespring en op die veiligheidsvoertuie geskiet wat hulle agtervolg het, voordat hulle verder gejaag het.

Brummer en ander reaksie-beamptes het op hul hakke gebly.

Van der Kooi het vroeër verduidelik dat hul beamptes nie gewapen is nie, maar in ’n geval soos Donderdag verdagtes agtervolg terwyl hulle in kontak met die polisie is, sodat dié die voortvlugtendes vinniger kan opspoor.

Die Quantum-bussie het kort ná die eerste skietery weer op die hoek van Gordonweg en Stanza Bopape-straat (Kerkstraat) gestop.

Brits het gesê: “Die verdagtes het uitgespring en in verskillende rigtings gevlug, terwyl hulle op die veiligheidswagte bly skiet het.

“Een verdagte het teruggekom en die een veiligheidswag deur sy voertuig se venster geskiet.”

Twee van die rowers het ook ’n man wat in ’n nabygeleë parkeerterrein was, se motor gekaap en daarmee weggejaag.

* Niemand is nog aangekeer nie.

Meer oor:  Veiligheidswag  |  Geskiet  |  Polisie-Ondersoek  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.