’n Veldwagter van Sanparke in die Stolsnek-gebied in die Krugerwildtuin is Vrydag in verband met dagga-smokkelary in hegtenis geneem.
Volgens Ike Phaahla, woordvoerder van Sanparke, is ’n groot hoeveelheid dagga in die man se besit gekry tydens ’n soektog na die 51-jarige Checkers Mashego, ’n veldwagter, wat op 17 November verdwyn het.
Mashego het op ’n roetine-patrollie by die Nsilikazi-rivierbedding verdwyn. Hy en ’n kollega het afgespreek om mekaar op ’n sekere plek te ontmoet. Hy het egter nooit opgedaag nie.
“Die soektog na Mashego duur voort,” het Phaahla gesê.