Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ventersburg: Selfs wagte by ouetehuis aangeval
Nonnie van Rensburg (84) by die bed in haar huis waaraan sy vasgemaak is. Foto: Alet van der Walt

Die dorp is in drie dele verdeel en elke ou weet waar hy mag steel en ook wie die gesteelde artikels sal koop, het ’n inbreker wat deur buurtwaglede gevang is, glo erken.

Inbrekers steel glo selfs “op bestelling” sekere goed.

Jood van Niekerk, ’n inwoner van Ventersburg, sê die inbreker het gesê wie die koper van die gesteelde goedere is.

Inwoners het toe self ingegryp en van hul besittings by die Afrikaanssprekende man gekry en teruggevat.

Van Niekerk sê misdadigers raak toenemend arrogant en ’n man het een Sondagoggend sommer by sy voordeur ingeloop. Hy sê die man het gevlug toe sy seun op hom geskree het.

’n Bejaarde inwoner van die dorp, Nonnie van Rensburg (84), het al menige maal onder misdadigers deurgeloop en het ’n paar jaar gelede selfs een nag ’n man met ’n besemstok uit haar huis verwilder.

Van Rensburg was weer Saterdag die slagoffer van misdaad toe sy ses uur lank vasgebind in haar huis aangehou is.

Haar aanvaller het ’n bottel whisky wat hy in haar huis gekry het, uitgedrink. Toe hy toilet toe gaan, het Van Rensburg haar kans waargeneem om hom in die toilet toe te sluit en die paniekknoppie te druk.

Danie de Kock, eienaar van Goldsec Security, het Sondagaand ná die voorval ’n veiligheidswag by Van Rensburg se huis geplaas, maar dié is deur twee mans aangeval en aangerand.

De Kock sê twee van sy veiligheidswagte is ook by die ouetehuis, Huis Nasina, aangeval en hul selfone is geroof.

’n Inbreker het ’n bottel whisky uitgedrink terwyl hy sy 84-jarige slagoffer in haar huis gevange gehou het. Foto: Verskaf

Veral bejaardes loop gereeld onder misdadigers deur wat by huise inbreek op soek na waardevolle artikels.

Inwoners sê vreemde mans stap eenvoudig in mense se erwe in, waar hulle dan deur vensters of traliedeure selfone, skootrekenaars en ander waardevolle items steel.

Kry hulle nie iets gesteel nie, wag hulle hul kans af en breek by die huis in.

Die dorp het ’n groot aantal weduwees wat alleen bly en daar is groot kommer oor dié vroue se veiligheid.

John Pitzer, ’n buurtwaglid, sê inwoners is moedeloos omdat daar min dienslewering van die plaaslike polisie is.

Die dorp het glo net een vangwa.

Hy sê wanneer mense wel in hegtenis geneem word, word hulle met hul eerste hofverskyning vrygelaat en inbrekers word selde gevonnis vir hul misdade.

Inwoners sê selfs wanneer hulle vermeende inbrekers se gegewens aan die polisie gee, word daar nie opgetree nie.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die polisie is besig met ’n ondersoek na die bewerings en kan nie onmiddellik op die klagtes reageer nie.

Die badkamer waaruit ’n inbreker ontsnap het toe hy toegesluit is. Foto: Verskaf


Meer oor:  Ventersburg  |  Wagte  |  Ouetehuis  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.